Sokkerspan laat Engelse vreugdevure hoog brand

Engeland se vrouesokkerspan vier hul oorwinning op Wembley. Foto: Twitter.

Deur Riaan Hofmeyr

Die vreugdevure brand tans hoog in Engeland nadat dié land se vrouesokkerspan Duitsland met 2 – 1 in die eindstryd van die Euro-toernooi op ’n stampvol Wembley-stadion geklop het.

Engeland is alombekend as die tuiste van sokker, maar dit is die bleekbene se eerste groot internasionale trofee sedert Bobby Moore se span in 1966 die Wêreldbeker gewen het.

Ella Toone het in die 62ste minuut die bal aan die rol met die wedstryd se openingsdoel gesit, maar Duitsland se Lina Magull het sake in die 79ste minuut gelykop gemaak.

’n Gelykoptelling ná 90 minute beteken bykomende tyd, en Chloe Kelly het haar land se jongste heldin geword toe sy die wendoel in die 110de minuut aangeteken het.

“Dit was die trotsste dag van my lewe,” het Leah Williams, kaptein, na afloop van die wedstryd gesê.

Sy het terselfdertyd haar spelers geloof; nie net vir hul goeie spel nie, maar ook vir wat hul vertoning vir die sport in die land beteken.

Vrouesokker geniet beslis ’n gewildheidsinspuiting en die eindstryd is deur 87 192 toeskouers bygewoon.

Wat die eindstryd selfs meer spesiaal maak is al die ooreenkomste met die 1966-oorwinning.

Engeland was al twee keer die toernooigasheer, die eindstryd is beide kere op Wembley teen Duitsland beslis en bykomende tyd het in al twee kragmetings ’n deurslaggewende rol gespeel.

  • Suid-Afrika se vrouesokkerspan is die Afrikabeker-wenners nadat hulle vroeër met Marokko in die eindstryd afgereken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.