Super Max maak dit agt seges op ʼn streep

Max Verstappen en Sergio Perez het eerste en tweede in die Belgiese Grand Prix geëindig. (Foto: Twitter/Red Bull Racing)

Daar blyk vanjaar geen keer aan Max Verstappen en Red Bull te wees nie en die aksie by die Belgiese Grand Prix het dié stelling net bevestig.

Die Nederlandse renjaer het sy agtste wedren op ʼn streep gewen terwyl die oorwinning beteken dat ʼn Red Bull-renjaer vir die 13de agtereenvolgende wedren op die boonste trappie van die podium kon staan.

Sergio Perez was tweede, maar ʼn hele 22 sekondes agter sy vlieënde spanmaat.

Wat Verstappen se vertoning selfs meer indrukwekkend maak, is die feit dat hy sy plek van sesde na eerste moes oopveg omdat sy vuurwa met ʼn splinternuwe ratkas toegerus was.

Maar die verdedigende wêreldkampioen het teen dié tyd al soveel vertroue in sy renmotor se pylvakspoed dat ʼn swakker plek op die wegspringrooster hom hoegenaamd nie skeel nie.

Hy het verby Lewis Hamilton en Charles Leclerc geblits en kort voor lank was Perez in sy visier. Die spanmaat-tweestryd was egter van korte duur.

Dit was kwalik ʼn wroem-wroem hier en ʼn wroem-wroem daar of Verstappen het die voortou van die wedren geneem.

En dáár het hy tot die einde gebly.

Leclerc was derde in sy Ferrari, terwyl Hamilton vierde geëindig het.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Sergio Perez (Red Bull)
  3. Charles Leclerc (Ferrari)
  4. Lewis Hamilton (Mercedes)
  5. Fernando Alonso (Aston Martin)
  6. George Russell (Mercedes)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Esteban Ocon (Alpine)
  9. Lance Stroll (Aston Martin)
  10. Yuki Tsunoda (AlphaTauri)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 314 punte
  2. Sergio Perez: 189 punte
  3. Fernando Alonso: 149 punte
  4. Lewis Hamilton: 148 punte
  5. Charles Leclerc: 99 punte
  6. George Russell: 99 punte
  7. Carlos Sainz: 92 punte
  8. Lando Norris: 69 punte
  9. Lance Stroll: 47 punte
  10. Esteban Ocon: 35 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 503 punte
  2. Mercedes: 247 punte
  3. Aston Martin: 196 punte
  4. Ferrari: 191 punte
  5. McLaren: 103 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.