Super Max sal ʼn gedugte teenstander bly

Max Verstappen vier nóg ’n oorwinning. (Foto: Twitter/F1)

Max Verstappen sal altyd ʼn gedugte teenstander bly, selfs al was hy nie agter die stuur van ʼn vlieënde Red Bull-vuurwa nie.

Die 25-jarige renjaer is vanjaar weer eens onstuitbaar. Hy het nou al ses wedrenne op ʼn streep gewen en terselfdertyd ʼn voorsprong van 99 punte op die jaerspunteleer opgebou.

“Ek is daarvan oortuig dat hy selfs wedrenne kan wen as lid van ʼn gemiddelde renspan. Hy is nie net baie talentvol nie, maar sy selfvertrouebeker is ook tot oorlopens toe vol,” het Marc Surer gesê.

Die Switserse oudrenjaer (71) meen dat Verstappen se volwassenheid ook ʼn daadwerklike verskil maak.

“Hy weet wat hy kán doen, hy weet hóé om dit te doen en hy weet hoe om mense te bestuur. Sy volwasse benadering tot die sport is baie indrukwekkend.”

Die jong Nederlander het met sy 42ste loopbaanoorwinning in die Oostenrykse Grand Prix die legendariese Ayrton Senna se segerekord verbygesteek.

Volgens Surer is daar ooreenkomste tussen dié twee renjaers.

“Senna was altyd vasberade, selfs wanneer hy ʼn teenstander verbygesteek het. Dit was alles of niks; hy was ʼn ware renjaer. Baie van die huidige renjaers beskik nie oor ʼn soortgelyke ingesteldheid nie, maar Verstappen is beslis die uitsondering.”

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 255 punte
  2. Sergio Perez: 156 punte
  3. Fernando Alonso: 137 punte
  4. Lewis Hamilton: 121 punte
  5. Carlos Sainz: 83 punte
  6. George Russell: 82 punte
  7. Charles Leclerc: 74 punte
  8. Lance Stroll: 44 punte
  9. Lando Norris: 42 punte
  10. Esteban Ocon: 31 punte.

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 411 punte
  2. Mercedes: 203 punte
  3. Aston Martin: 181 punte
  4. Ferrari: 157 punte
  5. McLaren: 59 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Duck ·

Dis als goed en wel en ja, die Red Bull karre is vinnig, te vinnig vir die ander om by te hou, Ek is ‘n kranige F1 kyker maar dit is so voorspelbaar dat jy kan maar so 4 naweke se resies mis want hy /hulle wen alles. Daar is geen kompetisie nie en dit maak dit nie meer die moeite werd om te kyk nie.

daarsdit ·

Het presies so gevoel met Mercedes die afgelope jare. En niemand het daarmee fout gevind nie. Ons het bly kyk omdat Max hulle in ‘n swakker kar opdraande gegee het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.