Swiatek jag ’n derde titel in Parys

Iga Swiatek (links) en Karolina Muchova (regs) speel Saterdag in die eindstryd van die Franse Ope. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Daar is ontleders wat meen dat Iga Swiatek se spel nie vanjaar van dieselfde gehalte is as toe sy verlede jaar vir Coco Gauff in die eindstryd van die Franse Ope laat les opsê het nie.

Tog het die wêreld se voorste vrouespeler steeds vir die eindstryd van die kleibaantoernooi gekwalifiseer waar sy haar derde Grand Slam-titel op Roland-Garros jag.

Die 22-jarige Pool speel teen Karolina Muchova in Saterdag se eindstryd; ʼn Tsjeggiese speler wat gewys het dat sy oor die vermoë beskik om met topteenstanders af te reken nadat sy vir Aryna Sabalenka in die halfeindstryd uitgeskakel het.

Hoewel Swiatek die gunsteling is om met die louere weg te stap, weet sy dat sy op haar beste teen Muchova moet wees.

“Ek ken Karolina se spel goed want ons het al baie saamgeoefen, terwyl ek ook gereeld haar wedstryde volg. Ek het respek vir haar ek glo dat sy ʼn speler is wat amper enigiets op die baan kan doen. Sy het ʼn goeie aanvoeling vir die spel, terwyl sy ook met baie vryheid speel. Ek sal egter gereed wees vir haar,” het Swiatek beloof.

Op haar beurt is Muchova heel tevrede om buiteperdstatus te geniet.

“Ek weet dat ek mededingende tennis teen die wêreld se voorste spelers kan opdis. Die wedstryd teen Aryna het nie net my selvertroue ʼn welkome hupstoot gegee nie, maar dit het my ook gewys dat ek altyd ʼn kans staan om enige wedstryd te wen.”

Die wenner van môre se wedstryd sal €2,3 miljoen (R46,68 miljoen) in die sak steek.

Uitslae:

Iga Swiatek klop Beatriz Haddad Maia met 6-2 en 7-6

Karolina Muchova klop Aryna Sabalenka met 7-6, 6-7 en 7-5

Vandag se bepalings:

Carlos Alcaraz teen Novak Djokovic

Alexander Zverev teen Casper Ruud.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.