Swiatek op ’n drafstap na nóg ’n finaal

Pole se Iga Swiatek. Foto: Thomas Samson/AFP.

Iga Swiatek het net 64 minute nodig gehad om haar plek in môre se eindstryd van die Franse Ope te bespreek.

Die jong Pool het vir Daria Kasatkina met 6-2 en 6-1 oorrompel en sal nou teen die VSA se Coco Gauff te staan kom.

Swiatek het in 2020 die jongste speler (19) geword om op Roland-Garros te wen sedert ’n 16-jarige Monica Seles in 1992 met die louere weggestap het. Sy het toe vir Sofia Kenin in ’n eensydige wedstryd met 6-4 en 6-1 ore aangesit.

En as ’n mens na haar huidige spelpeil kyk, is die kans groot dat sy weer ná môre se aksie die silwerware omhoog sal hou.

Die wêreld se voorste vrouespeler het – te danke aan haar halfeindstrydoorwinning – haar 34ste agtereenvolgende wedstryd gewen.

Die prestasie beteken dat sy nou gelyk is met Serena Williams wat in 2013 ook 34 wedstryde op ’n streep gewen het. Venus Williams se rekord van 35 oorwinnings is beslis nou in die jong speler se visier.

Maar net soos Swiatek beskik Gauff ook oor die vermoë om die rekordboeke te herskryf.

Die 18-jarige Amerikaner is een van die jongste spelers nóg in die eindstryd van die Franse Ope en sy is een van die min spelers wat by Swiatek kan kers vashou – veral wat atletiese vermoë betref.

Swiatek het weliswaar hul vorige twee ontmoetings op ’n drafstap gewen, maar Gauff speel vreeslose tennis.

’n Strategie wat óf uitstekend in die drukkoker-situasie van ’n eindstryd kan werk, óf lelik kan skeefloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.