Swiatek sit haar Rybakina-tweestryd voort

Pole se Iga Swiatek het nog ’n wedstryd in Rome gewen. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Iga Swiatek, die wêreld se voorste vrouespeler, het na nóg ʼn Italiaanse Ope-kwarteindstryd deurgedring toe sy vir Donna Vekic met 6-3 en 6-4 geklop het. Dit was haar 14de agtereenvolgende oorwinning in Rome.

Die 21-jarige Pool sit nou haar wedywering met Elena Rybakina voort; ʼn speler teen wie sy in hul vorige twee kragmetings vasgeval het.

Rybakina het met die louere in die Indian Wells-toernooi (6-2 en 6-2) en die Australiese Ope (6-4 en 6-4) weggestap. Tog is Swiatek ʼn kleibaanster in Rome.

Benewens haar rits oorwinnings het sy ook bitter lanklaas ʼn stel in die toernooi afgestaan; Barbora Krejcikova was in 2021 die laaste speler wat ʼn stel van haar kon afrokkel.

Sedertdien is dit eenrigtingverkeer en teenstanders moes magteloos toekyk hoe sy vir die afgelope twee jaar die silwerware omhoog hou.

Tog meen Swiatek dat sy nie die gunsteling óf die buiteperd teen Rybakina is nie.

“Ek gaan die komende wedstryd net soos enige ander kragmeting benader. Dit help nie om oor ons vorige tweestryde te praat nie – dit was immers op harde bane. Ek het nou geen verwagtinge nie en wil net op my beste wees,” het sy gesê.

In die mansafdeling het Stefanos Tsitsipas met Italië se Lorenzo Musetti afgereken. Die eindtelling was 7-5 en 7-5 in die Griek se guns.

Dan het Daniil Medvedev vir die negende keer in sy loopbaan met Alexander Zverev klaargespeel toe hy die Duitser met 6-2 en 7-5 geklop het.

Uitslae:

Stefanos Tsitsipas klop Lorenzo Musetti met 7-5 en 7-5

Daniil Medvedev klop Alexander Zverev met 6-2 en 7-6

Yannick Hanfmann klop Andrey Rublev met 7-6, 4-6 en 6-3

Francisco Cerundolo klop Jannik Sinner met 6-7, 6-2 en 6-2

Casper Ruud klop Laslo Dere met 6-1 en 6-3

Holger Rune klop Alexei Popyrin met 6-4, 5-7 en 6-4

Iga Swiatek klop Donna Vekic met 6-3 en 6-4

Anhelina Kalinina klop Beatriz Hadad Maia met 6-7, 7-6 en 6-3

Veronika Kudermetova klop Qinwen Zheng met 3-6, 6-3 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.