Swierige Swiatek weer tenniskoningin van Parys

Iga Swiatek is weer die Franse Ope se vrouekampioen. (Foto: Julien de Rosa/AFP)

Iga Swiatek het skaars ʼn week gelede haar 22ste verjaardag gevier en haar vertoning in vandag se Franse Ope-eindstryd was ongetwyfeld die kersie op die koek.

Die Poolse speler het vir Karolina Muchova van die Tsjeggiese Republiek met 6-2, 5-7 en 6-4 geklop om haar derde titel op Roland-Garros in te oes.

As Rafael Nadal die koning van klei is, dan is Swiatek goed op koers om die koningin van kleibaantennis te word.

Sy het nou al 28 van haar 30 wedstryde in Parys gewen en oudergewoonte het sy weer probeer om sommer so vanuit die staanspoor die septer teen Muchova te swaai.

Swiatek het nege van die eerste 11 potte gewen voordat die Tsjeg ʼn verbete terugvegpoging van stapel gestuur het om die tweede stel te wen.

Maar topspelers wen wanneer dit saak maak en die verdedigende kampioen het die derde en beslissende stel beklink om die silwerware weer eens omhoog te hou.

Die Pool is nou saam met Monica Seles en Naomi Osaka die enigste vrouespelers van die professionele era om al vier van hul eerste vier Grand Slam-eindstryde te wen.

Sy is ook die jongste speler sedert Seles om met agtereenvolgende Franse Ope-titels te spog. Gʼn wonder sy het ná afloop van die wedstryd gesê dat Parys haar gunstelingplek is om tennis te speel nie.

Die koningin van klei kan nog vir ʼn paar jaar daar regeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.