Taai openingstryd wag op Rafa

Rafael Nadal spog met sy Australiese Ope-trofee. Foto: Martin Keep/AFP.

Die bepalings vir die Australiese Ope is bekend en Rafael Nadal sal hom vir ʼn Britse aanslag moet staal wanneer hy teen Jack Draper in sy openingswedstryd te staan kom.

Die 21-jarige Draper speel juis môre in die halfeindstryd van die Adelaide International 2-toernooi en hy het al met ʼn paar toptienspelers in sy jong loopbaan afgereken.

“Dit sal ʼn wonderlike ervaring wees om teen Rafa te speel; hy is ʼn kampioenspeler. Ek is nog jonk en ek wil baie graag op my beste teen hom wees,” het die Brit gesê.

Nadal is die verdedigende kampioen nadat hy verlede jaar met Daniil Medvedev in vyf stelle afgereken het.

Intussen is Novak Djokovic en Nick Kyrgios op koers om koppe in die kwarteindstryd van die toernooi te stamp. Hul vertoonwedstryd môre op die Rod Laver-baan kan dus die perfekte littelosmaker wees.

Djokovic – wat reeds nege keer met die trofee in Melbourne geglimlag het – begin sy veldtog teen Roberto Carballes Buena; ʼn speler met wie hy op ʼn drafstap tydens die Amerikaanse Ope-toernooi in 2019 afgereken het.

Indien die Serwiër vir die tiende keer met die louere sou wegstap, sal dit die 22ste Grand Slam-titel van sy loopbaan wees.

In ʼn ander lekker eersterondewedstryd sal Andrey Rublev teen Dominic Thiem te staan kom.

Thiem, wat ʼn paar jaar terug die Amerikaanse Ope-titel ingeoes het, sukkel deesdae gereeld met beserings en hy het nou as ʼn promotorskeuse sy pad na Melbourne gevind.

Die aksie begin amptelik op 16 Januarie.

  • Eersteronde-bepalings (topgekeurde spelers):

Rafael Nadal (1) teen Jack Draper

Casper Ruud (2) teen Tomas Machac

Stefanos Tsitsipas (3) teen Quentin Halys

Novak Djokovic (4) teen Roberto Carballes Buena

Andrey Rublev (5) teen Dominic Thiem

Felix Auger-Aliassime (6) teen Vasek Pospisil

Daniil Medvedev (7) teen Marcos Giron

Taylor Fritz (8) teen Nikoloz Basilashvili

Holger Rune (9) teen Filip Krajinovic

Hubert Hurkacz (10) teen Pedro Martinez

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.