Tatjana en Pieter pronk in swembad

Tatjana Schoenmaker in aksie. (Foto: Argieffoto/Anthony Wallace/AFP. )

Tatjana Schoenmaker is weer die nasionale 100 m-borsslagkampioen nadat sy by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Gqeberha met die louere weggeswem het.

Die 25-jarige swemsensasie het met ʼn spogtyd van 1:05.89 gewen; tans die naasbeste tyd ter wêreld in dié item vir 2023.

Lara van Niekerk, die verdedigende kampioen en Statebondspele-ster, was tweede in ʼn tyd van 1:06.74.

Volgens Schoenmaker is sy veral in haar noppies omdat sy vinniger as 1:06 geswem het.

“Dit het nie eintlik vir my saak gemaak of ek eerste, tweede of laaste gekom het nie; dit is lekker om jou persoonlike doelwitte te bereik. Ek het 1:04.8 by die Olimpiese Spele in Tokio geswem en sedertdien het ek gesukkel om weer onder 1:06 klaar te maak,” het sy gesê.

“Wanneer ek oefen, het my tye baie goed gelyk, maar ek kon net nie by ʼn amptelike resies ʼn soortgelyke tyd swem nie. Ek is baie tevrede met hierdie vertoning.”

In die rugslagitem het die talentvolle Pieter Coetzé oudergewoonte weer amok gemaak.

Die jong Pretorianer het sy eie nasionale en Afrika-rekord in die 100 m-rugslagitem tot 52.78 s verbeter. Hy het tydens verlede jaar se Junior Wêreldkampioenskap die vorige rekord van 52.95 s opgestel.

“Tydsgewys het ek eerlikwaar geen verwagting gehad nie omdat dit nog baie vroeg in die seisoen is. Nodeloos om te sê, ek is baie gelukkig met dié vertoning. Dit is goed om die seisoen op so ʼn noot te begin en dit maak my opgewonde vir die res van die jaar,” het Coetzé gesê.

Hy het al vantevore gesê dat sy visier op ’n Olimpiese goue medalje gerig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.