Terugslag tref Dakar-voorloper

Yazeed Al Rajhi se ongeluk ná 51 km van die sesde skof. (Foto: Eric Vagiolu/DPPI via AFP)

ʼn Reuseterugslag het die algehele voorlopers van die Dakar-veldtydren, Yazeed Al Rajhi en Timo Gottschalk van Overdrive Racing, getref toe ʼn ongeluk hul titelkanse in die wiele gery het.

Die Saoediese jaer en sy Duitse navigator het ná 51 km van die moordende sesde skof van 48 uur teen ʼn sandduin gerol en hulle kon nie hul voertuig herstel nie.

Dit het die deur vir Carlos Sainz en Lucas Cruz in hul Audi oopgelos om algehelevoorloperstatus te geniet.

Die amptelike uitslae sal eers ná Vrydag se tweede gedeelte bevestig word.

Suid-Afrika se Giniel de Villers en Dennis Murphy van die Toyota Gazoo Racing-span het die eerste gedeelte in die 11de plek voltooi, terwyl groentjie Guy Botterill die dag in die 17de plek afgesluit het.

Die moordende skof van 48 uur is ʼn nuutjie by vanjaar se Dakar-avontuur.

Al die deelnemers moes Donderdag om 16:00 stop en by ʼn kamp oornag waar hulle net die nodigste – lees tent, ʼn paar liter water, ʼn slaapsak en kos – ontvang het.

Voorlopige uitslae (sesde skof):

  1. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin (Bahrain Raid Xtreme): 07:21:56
  2. Carlos Sainz en Lucas Cruz (Team Audi Sport): 07:23:57
  3. Mattias Ekstrom en Emil Bergkvist (Team Audi Sport): 07:32:51
  4. Lucas Moraes en Armand Monleon (Toyota Gazoo Racing): 07:44:41
  5. Guerlain Chicherit en Alex Winocq (Overdrive Racing): 07:56:01
  6. Martin Prokop en Viktor Chytka (Orlen Jipocar Team): 07:58:30
  7. Giniel de Villiers en Dennis Murphy (Toyota Gazoo Racing): 07:59:00
  8. Guillaume de Mevius en Xavier Panseri (Overdrive Racing): 08:03:24
  9. Seth Quintero en Dennis Zenz (Toyota Gazoo Racing): 08:11:01
  10. Guy Botterill en Brett Cummings (Toyota Gazoo Racing): 08:17:39
  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op die hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.