Tiafoe klink ook Rublev se doppie

Frances Tiafoe vier sy oorwinning in die kwarteindstryd van die Amerikaanse Ope. Foto: Twitter.

Frances Tiafoe het gister in New York gewys dat sy oorwinning teen Rafael Nadal nie ʼn frats was nie toe hy ook met Andrey Rublev klaargespeel het.

Die 24-jarige Amerikaner het die Rus met 7-6, 7-6 en 6-4 in die kwarteindstryd van die Amerikaanse Ope geklop.

Rublev het gehuil, geskree, gekla en hoewel alles aansienlik meer intimiderend in Russies klink, het hy geen antwoord vir Tiafoe se selfversekerde houe gehad nie.

“Dit is absolute malligheid,” het Tiafoe ná die wedstryd gesê.

“Skaars 24 uur vantevore het ek die grootste oorwinning van my loopbaan gevier en kyk nou weer! Andrey is ʼn baie goeie speler en dit is ʼn ongelooflike prestasie om hom te klop.”

Hy kon ook op die ondersteuning van die patriotiese Amerikaanse toeskouers staatmaak.

“Ek voel so tuis op hierdie bane. Die toeskouers moedig my aan en ek wil net tennis speel. Ek is nou in die halfeindstryd van die Amerikaanse Ope en kom ons geniet hierdie merkwaardige rit.”

Tiafoe is die eerste Amerikaner sedert Andy Roddick se heldedade in 2006 om vir die halfeindstryd van die Grand Slam te kwalifiseer.

Hy sal in die halfeindstryd teen die wenner van die Carlos Alcaraz‑Jannik Sinner-tweestryd te staan kom.

Die jongste beskikbare telling in daardie wedstryd is 6-3, 6-7, 6-7, 7-5 en 2-1 in Alcaraz se guns.

Uitslae:

Frances Tiafoe klop Andrey Rublev met 7-6, 7-6 en 6-4

Iga Swiatek klop Jessica Pegula met 6-3 en 7-6

Aryna Sabalenka klop Karolina Pliskova met 6-1 en 7-6.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.