Tyd raak min vir Brad Binder

Brad Binder. Foto: KTM

Dit was nie die uitslag waarop Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) gehoop het toe hy Sondagoggend by Phillip Island in Melbourne tiende in die Australiese MotoGP geëindig het nie, maar hy kon darem aan sy sesde posisie op vanjaar se kampioenskapspunteleer bly klou.

Binder het Donderdag aan crashnet.com gesê dat hy hoop om nie vanjaar sonder ʼn oorwinning af te sluit nie, want hy kan nie onthou wanneer laas dit in sy loopbaan in Moto3, Moto2 en MotoGP gebeur het nie.

Binder, wat Sondagoggend 16de weggespring het ná ʼn soveelste teleurstellende kwalifisering waar hy weer heelwat probleme ondervind het, het ’n paar broodnodige punte ingesamel.

Maar nadat Johann Zarco (Pramac Ducati) Sondag agtste geëindig het, het hy die voorsprong tussen hom en Binder tot net een punt laat krimp.

Met nog net twee renne in vanjaar se reeks oor, sal Binder al sy vernuf en jaagwerk moet inspan om sesde te eindig.

Die Grand Prix is deur Alex Rins (Suzuki) gewen met die gewese wêreldkampioen Marc Marquez (Repsol Honda) tweede en Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) derde.

Bagnaia is nou die nuwe voorloper in die reeks nadat die huidige kampioen, Fabio Quartararo (Monster Yamaha), geval het en sy voorspong ingeboet het.

Bagnaia is deur Marco Bezzechi (Mooney VR46 Ducati) in die vierde plek gevolg, met Enea Bastianini (Gresini Duacti) vyfde en Luca Marina (Mooney VR46 Ducati) sesde.

Bagnaia (233) is met twee renne oor 14 punte voor Quartararo (219) met Aleix Espargaro (Ducati) derde (206).

Bagnaia was Sondag in die laaste rondte nog voor, maar is in die tweede draai deur Rins en Marquez verbygesteek.

Bagnaia, wat vanjaar reeds ses renne gewen het, loop die eerste keer in sy loopbaan voor op die kampioenskapspunteleer.

Die voorlaaste ren in vanjaar se reeks is die Maleisiese MotoGP op 23 Oktober in Sepang, terwyl die reeks op 6 November in Valencia met die Spaanse MotoGP tot ʼn einde kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.