Vasbyt-uitdaging toets deelnemers se staal

(Foto: verskaf)

Deur Elize Perrin

“Dit was seker die moeilikste ding wat ek nog in my lewe gedoen het.”

So vertel ʼn deelnemer aan die derde jaarlikse Takie 1976 Vasbyt-uitdaging wat September in die Rustenburg-omgewing plaasgevind het.

In groot voetspore

Dink aan donker nagte, wind en weer, vier dae sonder kos en slaap en jy kry ʼn effense idee wat die uitdaging behels.

Deelnemers volg in groot voetspore aangesien die oorspronklike Vasbyt vanaf 1976 in die SAPD Spesiale Taakmag as ʼn keuringsproses aangebied word om in dié spesiale eenheid te dien. Aangesien dit slegs vir dienende lede is, het die Takie 1976-veteraanvereniging in 2021, onder leiding van Chris Beukes, dit goedgedink om ʼn soortgelyke uitdaging aan die siviele en privaat sektor bekend te stel. Dit sou nie net dien om die nalatenskap van die Spesiale Taakmag te eer nie, maar ook as ʼn geldinsamelingspoging om aan verdienstelike gevalle finansiële ondersteuning te bied.

(Foto: verskaf)

Volgens die Vereniging word die uitdaging deur voormalige lede van die taakmag aangebied wat graag hul ervaring deel.

Meer as fisiese fiksheid

Die uitdaging herinner aan ʼn kopspeletjie. Dit is oop vir enigeen om in te skryf. In 2021 was daar ook ʼn vroulike deelnemer. Hoor jy meer van die uitdaging en aktiwiteite, besef jy: meer as fisiese fiksheid is nodig.

“Deelnemers sukkel gewoonlik die meeste gedurende die aande,” vertel Chris Beukes, voorsitter van Takie 1976-veteraanvereniging. “Die swaar gewig van sandsakke en beertjies treinspoor met ketting en ysterbal) skei gewoonlik die koring van die kaf. Deelnemers word sielkundig en fisies getoets, dus moet ʼn mens sielkundig sterk wees. Wanneer jy moeg en seer is, word dit amper onmoontlik om nie te onttrek nie.”

(Foto: verskaf)

Nou wat motiveer ʼn persoon om in te skryf?

“Ek hou van uitdagings,” antwoord genoemde deelnemer. “Ek wou kyk wat my limiete is en as ek dit bereik, wat volgende is: of ek kan deurdruk en of dit my gaan breek. Ek wil amper sê realiteit sê vir jou jy kan nie, want dit is te swaar, te lank, te seer – maar soms is realiteit ook verkeerd.”

Beukes stem saam dat deelnemers dikwels hul limiete wil toets. Sommige deelnemers wil ook graag die ondervinding van voormalige SAPD Spesiale Taakmaglede ervaar.

“Die fisiese uitdaging is aanloklik vir die avontuurlustige gees,” meen Retief Coetzee, ʼn voormalige Spesiale Taakmaglid, “of dit is om die spogregte te hê om te kan sê dat hulle een van die min is wat ʼn 84 uur Vasbyt oorleef het.”

Genoemde deelnemer noem dat hy ook baie geleer het.

“ʼn Mens is tot baie meer in staat as wat jy dink,” sê hy. “Dit is fisies moeilik en taai, maar baie meer ʼn sielkundige geveg. As jou kop sterk genoeg is en jou wilskrag is sterk genoeg, kan jy aanhou en deur dit druk.”

“Ek het geleer om my kop reg te kry. Wanneer moeilike goed oor jou pad kom, weet jy is tot meer in staat en moenie skrik vir die berg wat voor jou lê nie. Jy kan hom klim.”

Deur al die swaarkry en vasbyt is daar dikwels ook komiese oomblikke.

“Die hallusinasies as gevolg van te min slaap gedurende nag drie, kan redelik komies wees,” vertel Retief Coetzee. “Terwyl ons destyds ʼn Vasbyt as instrukteurs aangebied het vir die SAPD Spesiale Taakmag, het ʼn deelnemer op dag twee onttrek en luidkeels gesê: “I want my lawyer and my Priest, and I want it now! Your guys are inhumane.”

(Foto: verskaf)

Pyn en lyding

Uitdagings soos die gaan meestal nie sonder pyn gepaard nie. Volgens die organiseerders is risiko vir beserings relatief laag. Indien beserings wel sou plaasvind, is daar twee goed toegeruste gespesialiseerde ER 24-mediese beamptes byderhand.

Daar vind ook daagliks twee mediese sessies plaas om deelnemers se toestand te bepaal. ʼn Algemene probleem is blase op die voete. Indien deelnemers binne die 84 uur sou onttrek, moet hulle medies ondersoek word om onderliggende of bestaande beserings te monitor en te behandel, voordat hulle die perseel mag verlaat.

Indien die mediese personeel enigiets opmerk, word dit aan die organiseerders oorgedra en dan moet ʼn besluit geneem word of die deelnemer mag voortgaan of nie.

Die organiseerders wys daarop dat die oefeninge in die program noukeurig saamgestel en beplan is. Wanneer deelnemers se moegheid intree, word meer spanaktiwiteite gedoen.

(Foto: verskaf)

Uitnodiging vir ʼn Vasbyt

Tydens die eerste Vasbyt-uitdaging in 2021 het drie deelnemers die program voltooi en in 2022 was vyf deelnemers suksesvol. Hierdie jaar het vyf-en-dertig deelnemers aangetree en het Jacobus Janse van Rensburg, Albert van Graan, Gulio van Deventer, Israel du Toit, Pierre van der Merwe en Michael Britz dit voltooi.

“Ek sal definitief ander jongmense aanraai om aan die Vasbyt-uitdaging deel te neem,” sê genoemde deelnemer. “Dis ʼn uitstekende groep mense met baie ondervinding wat dit aanbied en die taakmaglede het baie vir die land gedoen. Dis ook ʼn organisasie sonder winsbejag wat ander oud-taakmaglede help en dus ʼn goeie manier om die organisasie te ondersteun.”

Hy het ook ʼn bietjie raad vir voornemende deelnemers.

“Dis ʼn geleentheid om geestelik te groei. Nie almal maak dit nie. As jy dit maak, is dit goed. As jy dit nie maak nie, moet jy nie toelaat dat dit jou breek nie.”

Takie 1976 rig ook ʼn ope uitnodiging aan mense daar buite.

“Ons wil julle uitnooi om hierdie uitdaging te kom aanpak om die nalatenskap van die SAPD Spesiale Taakmag te kom eer. Hou ons Facebookgroep dop vir 2024 se Vasbyt-datums.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.