Veglustige Djokovic verwelkom druksituasies

Novak Djokovic is deur na nog ’n Grand Slam-halfeindstryd. (Foto: Tetsu Joko/The Yomiuri Shimbun via AFP)

Novak Djokovic is deur na die 46ste Grand Slam-halfeindstryd van sy roemryke tennisloopbaan nadat hy vir Andrey Rublev met 3-6, 6-1, 6-4 en 6-3 op Wimbledon geklop het.

Nadat hy in die eerste stel vasgeval het, het die sewemalige kampioen doodeenvoudig net na ʼn hoër rat oorgeskakel en hy het omtrent sy Russiese teenstander laat bontstaan.

Rublev kon trouens ʼn paar keer net glimlag wanneer Djokovic met nóg ʼn wenhou vorendag kom.

Djokovic jaag sy vyfde Wimbledon-titel op ʼn streep en daar is ongetwyfeld ʼn teiken op sy rug: Die jonger spelers werp alles in die stryd om met hom af te reken.

“Ek is egter mal oor die druk. Ek dink enige tennisspeler sal daarvan hou om in ʼn posisie te wees waar almal jou bitter graag wil klop. Ek stem met Billie Jean King saam: Dit is inderdaad ʼn voorreg,” het die Serwiër na afloop van die Rublev-kragmeting gesê.

Hy het darem ook tyd vir ʼn grappie gehad.

“Ek weet hulle wil wen, maar dit gebeur nog nie. Goeiste, ek klink darem baie nederig nou,” het hy glimlaggend geskerts.

Djokovic sal met Jannik Sinner in een van die toernooi se halfeindstryde rakette kruis.

In die vroueafdeling het Elina Svitolina, ʼn promotorskeuse van Oekraïne, haar droomlopie voortgesit toe sy met die wêreld se voorste speler afgereken het.

Svitolina het Iga Swiatek met 7-5, 6-7 en 6-2 geklop.

“Ek dink sy [Svitolina] wil baie graag die toernooi wen. En ek is ongetwyfeld in haar hoek. Sy het met baie vryheid en deursettingsvermoë gespeel; soms het sy omtrent op die baan losgetrek en die spel aansienlik vinniger gemaak,” het Swiatek ná hul tweestryd gesê.

Uitslae:

Novak Djokovic klop Andrey Rublev met 3-6, 6-1, 6-4 en 6-3

Jannik Sinner klop Roman Safiullin met 6-4, 3-6, 6-2 en 6-2

Elina Svitolina klop Iga Swiatek met 7-5, 6-7 en 6-2

Marketa Vondrousova klop Jessica Pegula met 6-4, 2-6 en 6-4

Vandag se wedstryde:

Daniil Medvedev teen Christopher Eubanks (kwarteindstryd)

Carlos Garcia teen Holger Rune (kwarteindstryd)

Madison Keys teen Aryna Sabalenka (kwarteindstryd)

Ons Jabeur teen Elena Rybakina (kwarteindstryd)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.