Vettel wil ’n rolmodel vir Mick wees

Sebastian Vettel. Foto: AP Photo/Andre Penner

Die jongste F1-wêreldkampioen ooit, Duitsland se Sebastian Vettel, het in ’n onderhoud gesê dat hy vir Mick Schumacher in sy eerste F1-seisoen sal help.

Vettel, nou 33 jaar oud, het destyds as 23-jarige die eerste van sy vier wêreldtitels verower. Michael Schumacher was een van sy helde as jong renjaer en hy beplan om ’n soortgelyke rolmodel vir Mick te wees.

“Ek sal hom met graagte help – maak nie saak of dit op die renbaan of met lewenskwessies is nie. Tog is dit ook terselfdertyd baie belangrik dat hy sy eie pad moet vind. Michael was destyds van onskatbare waarde toe ek vir hom raad gevra het, en ek wil dieselfde vir Mick doen,” het Vettel gesê.

Michael word steeds deur duisende F1-geesdriftiges as die beste renjaer van alle tye beskou, maar hy het ernstige hoofbeserings ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe opgedoen.

“Dit is hartseer dat Michael nie sy seun se vordering eerstehands langs die baan kon volg nie. Mick is ’n wonderlike ou en ek het ’n baie spesiale verbintenis met sy pa.”

Op sy beurt sien Mick na sy debuutseisoen in ’n Haas-motor uit.

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

Hy het reeds in September 2020 gesê dat hy eendag Lewis Hamilton se rekords sal jaag; die 36-jarige Brit was juis besig om sy pa se rekords te verbeter.

“Die vooruitsig om deel van die F1-wegspringrooster te wees maak my ongelooflik opgewonde. Ek het eintlik nie woorde om te beskryf hoe ek voel nie,” het Schumacher gesê.

“Ek het nog altyd geglo dat my F1-droom ’n werklikheid sou word. Ek sal soos altyd my bes doen en ek sien uit na die avontuur wat voorlê.”

Schumacher het ook sy ouers vir hul ondersteuning bedank.

“Ek wil ook hulde aan my ouers bring – ek is lief vir hulle en ek weet dat ek baie aan hulle verskuldig is.”

Mick is die derde lid van die Schumacher-familie – saam met Michael en Ralf – wat sy vaardighede op die F1-verhoog sal uitstal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrew ·

Dink hy sal eerder iemand as rolmodel wil he wat so nou en dan darm wen

Bertus ·

Vier loopbaantitels is heelwat meer as af en toe. En Vettel sou seer sekerlik nog ‘n paar ingepalm het, was dit nie vir die opmars van ‘n ene Mnr Hamilton nie.

KB ·

Nie mnr. Hamilton nie, maar die absurde leë dop in die Ferrari-bestuurspan. Dít was Vettel se probleem. Ek reken Seb Vettel as een vd mees ingeligte/ervare (tegnies en drywer) van die afgelope 10 jaar.
Hamilton is en bly ‘n “puppet” met bestuursvaardighede, dis al.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.