Mick Schumacher sê hy sal Hamilton se rekords jaag

Mick Schumacher vier sy F2-sege in Rusland. (AP Photo/Pavel Golovkin, Pool)

Die Engelsman Lewis Hamilton is goed op koers om Michael Schumacher se rekord vir die meeste F1-loopbaanoorwinnings te verbeter.

Die legendariese Duitse renjaer het 91 oorwinnings in sy roemryke loopbaan behaal, terwyl die 35-jarige Hamilton waarskynlik die afgelope naweek Schumacher se rekord sou geëwenaar het as dit nie vir ’n tegniese wegspring-oortreding in Rusland was nie.

Maar, sê Mick Schumacher, hy sal hard werk om op sy beurt weer Hamilton se rekords te verbeter.

“Ek dink Lewis het ’n baie goeie lopie gehad, maar my pa het altyd gesê dat rekords opgestel word sodat hulle weer verbeter kan word,” het die 21-jarige Schumacher gesê.

Hy is tans die voorloper in die F2-kompetisie en hy kan binnekort selfs die sprong na F1 maak.

“Ek dink daar is ’n moontlikheid dat hy volgende jaar by F1-wedrenne in aksie kan wees,” het Mattia Binotto, Ferrari-spanhoof, gesê.

“Ons is baie tevrede met sy vertonings vanjaar, maar hy moet ook op sy F2-verpligtinge konsentreer omdat hy ’n kans staan om die titel te wen.”

Lewis Hamilton. (Foto: AP Photo/Frank Augstein, Pool)

Hamilton het in vorige onderhoude net lof vir Michael Schumacher gehad en hy het gesê dat hy as kind daarvan gedroom het om in die Ferrari-legende se voetspore te volg.

“My wildste drome word egter nou oortref en ek is ongelooflik dankbaar vir die geleenthede wat ek daagliks kry. Michael was ’n uitstekende atleet en bestuurder en ek is baie geëerd dat my naam saam met syne, Ayrton Senna en Juan Manuel Fangio genoem word,” het Hamilton gesê.

Sy prestasies is egter vierkantig in die jonger Schumacher se visier.

“Ek dink die volgende doelwit is – indien ek die sprong na F1 maak – om dan weer Lewis se rekords te verbeter.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

johanf ·

Sterkte jongman, jy kan…… Ek het niks teen Hamilton, maar stem met wat jou pa gesê het, rekords is daar om gebreek te word…..

Charles ·

Hamilton is goed maar met sy politieke uitlatings sal hy nooit in die selfde asem as Schumacher, Senna en ander helde genoem kan word nie.

Racheltjie Debeer ·

Ek stem saam. Terwyl hy so tekere gaan oor BLM, hoort hy nie in Schumacher en Senna se geselskap nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.