Vlieënde Verstappen wen in Hongarye

Max Verstappen het die Hongaarse Grand Prix gewen. Foto: Attila Kisbenedek/AFP.

Van tiende tot eerste.

Dít, in ’n neutedop, is die verhaal van Max Verstappen se Hongaarse Grand Prix. Die Red Bull-renjaer het die wedren in die tiende plek begin ná ’n teleurstellende kwalifiserende sessie, maar ná 70 bestendige rondes is die geruite vlag vandag vir die agtste keer hierdie seisoen vir hom geswaai.

Hy het nou 258 punte op die jaerspunteleer en hy is op koers om sy tweede agtereenvolgende wêreldtitel in te oes.

Tog het Lewis Hamilton en George Russell ’n uitstekende Grand Prix vir Mercedes met hul tweede en derde plekke afgerond. Veral Hamilton het met sy vaart teen die einde van die wedren beïndruk en hy tel nou beslis onder die gevaarmanne.

Daarteenoor sal Ferrari homself weer eens wil skop. Ralf Schumacher het juis vroeër die week gesê dat die Italiaanse renspan tans die ander spanne se grootste bondgenoot is; en vandag was geen uitsondering nie.

Charles Leclerc was lag-lag die sterkste renjaer, maar sy spoed is deur ’n strategieblaps in die wiele gery toe sy renmotor met die hardste tipe band toegerus is.

Sy spoed is gebreek, Verstappen-hulle het munt daaruit geslaan en ’n gefrustreerde Leclerc kon net oor die spanradio swets.

In ’n perfekte wêreld kon die Monte Carlo-boorling waarskynlik vandag se wedren gewen het, maar hy moet nou met ’n sesde plek tevrede wees, terwyl Verstappen ongetwyfeld besig is om vir hom hakskene op die jaerspunteleer te wys.

Sebastian Vettel het die tiende in sy Aston Martin geëindig nadat hy vandeesweek sy uittrede aangekondig het.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. George Russell (Mercedes)
  4. Carlos Sainz (Ferrari)
  5. Sergio Perez (Red Bull)
  6. Charles Leclerc (Ferrari)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Fernando Alonso (Alpine)
  9. Esteban Ocon (Alpine)
  10. Sebastian Vettel (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 258 punte
  2. Charles Leclerc 178 punte
  3. Sergio Perez 173 punte
  4. George Russell 158 punte
  5. Carlos Sainz 156 punte
  6. Lewis Hamilton 146 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 431 punte
  2. Ferrari 334 punte
  3. Mercedes 304 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Twallie ·

Mooi, Max, Mooi man!!!! Oor ‘n paar jaar het almal van Hamilton se rekords vergeet.

Ferrari….Ai…..Die bestuur van daardie span is besig om hulle te kelder. Hulle moet die ingenieurs en ou Mattia Binotto afdank en vervang. Swak besluite van die bestuur se kant af is baie onregverdig teenoor Sainz en Leclerc.

Frans ·

‘n Vrou is die die hoofstrateeg by Red Bull en sit die manne ore aan,Niks fout met Ferrari se ingenieurs nie,met hulle strategie wel.Red Bull som die omstandighede beste op en het dadelik hul span se harde bande vervang by die wegspring toe weersomstandighede verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.