Voorste rolbalspelers dié naweek by enkelspelkampioenskap in Pta

(Argieffoto: Unsplash)

Deur Gert de Jager

Altesame 80 van Suid-Afrika se voorste rolbalspelers sal van Vrydag af in Pretoria in aksie wees tydens die SA Meesters Enkelspelkampioenskap.

Die toernooi vind by die Wingate-buiteklub plaas en kan met reg as die vertoonvenster van rolbal in Suid-Afrika beskou word.

Verskeie huidige en voormalige Protea-spelers is onder die deelnemers. Gerry Baker, Jason Evans, Bobby Donnelly, Colleen Piketh en Susan Nel tel onder van die mees ervare spelers in die veld, met die jonger Proteas en ander provinsiale spelers wat sake vir mekaar warm sal maak.

Daar word in ses afdelings meegeding: die mans‑ en vroue-ope, mans- en vroueveterane (60jr+) en junior mans en vroue (onder 30’s).

Vier van die ses meesterstitels is in 2023 deur plaaslike spelers van BGN (Bowls Gauteng-Noord) verower toe die toernooi in die Wes-Kaap aangebied is. Niksa Benguric (mans‑ope), Francois Koen en Sue Tarr (veterane) en Marizelle Rousseau (juniors) was toe die kampioene.

Of tuisveldvoordeel in hul guns gaan tel, sal gesien moet word.

Protea Benguric se eerste wedstryd more in afdeling 1 is teen Kholwani Khanyile, wat verlede jaar die junior meesterskampioen was. Niemand sal sommer Kholwani se laaste aflewering – waarmee hy die titel as’t ware voor die neus van Cecil Bornman “weggerol” het – vergeet nie.

Die ander Protea-spelers in afdeling 1 is Jason Evans en Wayne Rittmuller, met Wilson Malobolo, Shaun Thomas, Billy Radloff en André Rousseau wat die agttal volmaak.

Evans was in 2022 die meesterskampioen toe hy Gerry Baker op Wingate geklop het. Hy en Benguric kom Saterdag om 13:00 in albei se sewende en laaste wedstryde van spel in afdeling 1 teen mekaar te staan.

Evans is ʼn meestersspesialis wat die titel al vier keer by die afgelope ses toernooie ingepalm het.

Matthews Phiri wat in 2023 naelskraap teen Benguric in die Meesters verloor het, ding in afdeling 2 mee.

Met vier Proteas – Bradley Robinson, Victor Siphale, Brendan Ferns en Wayne Roberts – wat ook hier meeding, is ʼn voorspelling oor ʼn wenner amper soos om die wenner van die Durban July te voorspel. Die ander spelers is Gerry Baker, Paul White en Martin Lewis.

Johlene Bronkhorst van die Eden-distrik in die Suid-Kaap was verlede jaar se vroue-opekampioen en sy pak die jong Protea-speler Francesca Baleri Saterdag om 09:00 in haar eerste wedstryd in afdeling 1.

Die ervare Colleen Piketh, asook nog twee Proteas, Bridget Calitz en Marizelle Rousseau, speel ook in die afdeling saam met Esme Haley, Sega Mokoto en Claire Cowan. Piketh was in 2022 die meesterskampioen.

For everything you need to know about the 2024 BSA Masters this weekend, head to this landing page: https://www.bowlssa.co.za/bsa-masters-2024

Posted by Bowls South Africa on Tuesday, February 6, 2024

In afdeling 2 sal Dezi Rosenblatt en Esme Kruger se Protea-ervaring hul goed te pas kom. Die ander deelnemers in die afdeling is Nici Neal, Leone du Rand, Annelie de Jager, Natalie Botha, Elma Louw en Charlotte Rossouw.

Francois Koen se laaste aflewering tydens die 2023‑Meesters het aan hom die veterane-titel besorg, en sy kennis van Wingate se perke kan hom daarop laat voortbou in afdeling 1 van die veterane.

Theuns Fraser, Robbie Piketh, Brian Dial, Callie van der Merwe en Gianni Gatti is die ander spelers in die afdeling.

In afdeling 2 is die ses spelers Bobby Donnelly, Stoffel Lambrechts, Kenny Kyriacou, John Connellan, Mark Beviss-Channilor en Gene Hill.

Hill speel in Rudi Jacobs se plek wat verlede week oorlede is.

Wyle Jacobs (63) het in 1998 sy Proteakleure verwerf en was in 2022‑’23 albei keer die naaswenner.

Fiksheid en konsentrasie speel deurlopend ʼn belangrike rol in rolbal en met die huidige hitte sal dit selfs meer die geval wees in die stryd tussen die 12 spelers in die veterane vir vroue waar Sue Tarr haar titel sal verdedig.

Tarr is in afdeling 1 en die ander spelers is Nan Roos, Heather Pembroke, Louise Wessels, Glenda Matthews en Cherry-Ann Mills.

Susan Nel (naaswenner in 2023) se teenstanders in afdeling 2 is Sandy Smart, Lyn Lambert, Pam Cole-Cook, Linda Stringer en Jenny Jones.

Laaste maar nie die minste nie, is dit die junior mans en vroue. Hoewel nog jeugdig, ontbreek dit hier beslis nie aan ervaring en interessante spelpatrone nie.

In die afdeling vir mans sal Charles Mathewson, die Protea van die Noord-Kaap, in afdeling 2 breed voor sy medespelers staan.

Met ysters soos Nomatter Muvhango, Alwyn Martignone, Lethabo Mathibela, Micus Grech en Adrian Bocklem ook daar, word ʼn taai stryd verwag.

In afdeling 1 van die juniors het Cecil Bornman die tuisbaanvoordeel. Die ander spelers is Josh Turner, Driaan van Niekerk, Adi Esau, Terrance McGlynn en David Nel.

ʼn Nuwe kampioen sal by die junior vroue gekroon moet word, want 2023 se wenner, Marizelle Rousseau speel nou in die ope-afdeling.

Gillian Young, 2022 se junior kampioen op die einste Wingate, se vyf mededingers in afdeling 2 is die twee Proteas Thabelo Muvhango en Panashe Ziramba, asook Jackie Rabie, Shannon Davies en Alecea Snyder.

Emma Murphy lei die aanslag in afdeling 1 en haar teenstanders is Luané du Plessis, Zune Waters, Lolly Skingle, Leila Snyman en Lezandri Hildebrand.

Vir diegene wat nie in Pretoria en omstreke woon nie, is daar ook goeie nuus: Daar sal daagliks regstreekse dekking wees van sekere wedstryde in al die verskillende afdelings.

Vir Maroela Media-lesers wat nog nie na “skaak op gras” gekyk het nie, sal die uitsendings hul hopelik lok om meer van die spel te wete te kom.

Die eindrondtes van die ses afdelings vind Sondag plaas.

Here are the links for the various streaming platforms to watch the action of the BSA Masters LIVE!BURNT END…

Posted by Bowls South Africa on Tuesday, February 6, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.