Wanneer die resies begin, laat spaander dié SA roeier

Esti van Tonder is die ene konsentrasie. Foto: Bence Vekassy.

Wanneer Esti van Tonder soggens in haar roeiboot deur die waters klief, is daar ’n gedetermineerde uitdrukking in haar oë. Want nie net wil sy haarself met elke roeispaanslag verbeter nie, sy jaag ook ’n droom na om haarself teen die beste te meet.

“Ek is al 15 jaar lank ’n mededingende roeier, maar ek roei eintlik al my hele lewe lank,” het sy aan Maroela Media gesê.

Op 14-jarige ouderdom het sy die Suid-Afrikaanse o.18-span vir die Roeimarathon-wêreldkampioenskap gehaal en sedert 2014 het sy jaarliks die Proteas in haar roeiboot verteenwoordig.

En as jy ’n roeibaas was wat na haar roeigetuigskrif gekyk het, sou jy haar beslis aangestel het.

Sy was al vyfde en sewende in haar K1-kategorie by twee verskillende jare se o.23-Wêreldkampioenskap, terwyl sy ook ’n vyfde plek by die Senior Wêreldbeker losgeroei het.

Maar haar persoonlike gunstelingresies is die 500 m-C-finaal (K1-kategorie) by vanjaar se Wêreldkampioenskap.

“Dit was een van dáárdie dae waar alles net perfek verloop het. Alles het presies uitgewerk soos wat ek beplan het en ek het die vrugte gepluk van járe lange voorbereiding – my tyd het dit sommer ook gewys! Daardie wedren het my die motivering gegee om aan te hou werk vir die Wêreldbeker in 2020!”

Moet ook nie dink dat mens sommer net in jou bootjie klim en daar trek jy nie; Esti het tot 11 oefensessies per week, waaronder ’n sessie of twee by die Sport Science Lab SA.

“Mense dink altyd dat roei ’n sportsoort is waar jy net jou arms hoef te gebruik, en dit is glad nie die geval nie. Dit is ’n ongelooflike tegniese sport wat van elke spiertjie vereis om op sy beste te funksioneer. In ’n resies van 500 m gaan dinge byvoorbeeld nie net oor spoed nie, jy het ook uithouvermoë en krag nodig om suksesvol te wees.”

Foto: Bence Vekassy.

Soos reeds genoem het sy al jare lange ondervinding, maar het haar bootjie al omgekantel?

“Ja, baie kere!” sê sy laggend.

“Om die een of ander onverklaarbare rede kies ek altyd die koudste dag van elke winter om uit my boot te val. Dit is dan asof my brein vir ’n breukdeel van ’n oomblik nie met die res van my liggaam kommunikeer nie, maar dan skrik my senuweestelsel met ’n groot gejuig weer wakker net wanneer ek die ysige water tref!”

Tog is daar nie baie sportsoorte wat vir soortgelyke adrenalieninspuitings kan sorg nie.

“By vanjaar se Wêreldkampioenskap in Hongarye (die Mekka van snelroei) was 102 lande se roeiers voor duisende toeskouers in aksie. Jy kan fisiek vóél hoe die mense skree, op dromme slaan en tekere gaan terwyl jy wag om weg te spring.”

Soos enige sportman of -vrou droom sy daarvan om teen die bestes mee te ding.

“My grootste doelwit? Dit is ’n maklike vraag om te beantwoord – die Olimpiese Spele.

“Mens sal hard werk om ’n goue medalje daar te wen, maar op die ou einde wil ek net weet dat ek my beste op die grootste sportverhoog gegee het.”

En Esti van Tonder werk hard om elkeen van haar drome te bewaarheid. Een roeislag op ’n keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dolfyn ·

Voorspoed! Kanovaart en roei op die see is nie vir gewone sportmanne- en vroue nie, dit is verslawend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.