‘Wen is baie beter as verloor’ – McEnroe

John McEnroe en sy spelers vier hul Laverbeker-sukses. (Foto: Clive Brunskill/Getty Images North America via AFP)

John McEnroe se Wêreldspan het korte mette met hul Europese teenstanders in die Laverbeker gemaak.

Ben Shelton en Frances Tiafoe se dubbelspeloorwinning teen Hubert Hurkacz en Andrey Rublev was die kersie op die koek vir die Wêreldspan.

Die twee Amerikaners het die kragmeting met 7-6 en 7-6 in Vancouver gewen en die Wêreldspan-spelers het silwerware met ʼn algehele oorwinning van 13-2 beklink.

“Ek het dit nie net geniet om deel van ʼn spanopset te wees nie, maar ook om vir John McEnroe te speel. Ons spelers het ongetwyfeld met baie energie gespeel en dit maak dinge net soveel makliker,” het Shelton gesê.

Die vurige McEnroe, wat in sy raketswaaidae sewe Grand Slam-titels ingeoes het, is trots op sy spanlede se vertoning.

“Ons is reeds besig om aan volgende jaar se Laverbeker-aksie te dink want wen is baie beter as verloor,” het die 64-jarige oudspeler gesê.

Die Wêreldspan het verlede jaar vir die eerste keer in Londen met die spankompetisie-louere weggestap, nadat Europa in ʼn hele paar toernooie die septer geswaai het.

“Dit voel ongelooflik om te sien hoe hulle vir ʼn slag op hul neuse kyk; ons moes dit al ʼn paar keer gedoen het. Verlede jaar moes ons tot die einde veg en vanjaar kon ek onmiddellik die spangees onder ons spelers sien. Almal het baie goeie tennis gespeel.”

Spanne:

Europa: Andrey Rublev, Casper Ruud, Hubert Hurkacz, Alejandro Davidovich Fokina, Arthur Fils, Gael Monfils en Bjorn Borg (kaptein).

Wêreld: Taylor Fritz, Frances Tiafoe, Tommy Paul, Felix Auger-Aliassime, Ben Shelton, Francisco Cerundolo en John McEnroe (kaptein).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.