Wenner van NY-finaal die volgende wêreldnommereen

Carlos Alcaraz in aksie. Foto: Julian Finney/Getty Images/AFP.

Wanneer Carlos Alcaraz in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Casper Ruud te staan kom, is daar selfs meer as “net” ʼn Grand Slam-titel op die spel.

Wie ook al die wedstryd in New York wen, sal die nuwe nommereenspeler op die ATP-ranglys wees.

Die 19-jarige Alcaraz het Frances Tiafoe met 6-7, 6-3, 6-1, 6-7 en 6-3 in die halfeindstryd afgeransel, terwyl Ruud op sy beurt met Karen Khachanov afgereken het.

Die eindtelling was 7-6, 6-2, 5-7 en 6-2 in die Noorweegse speler se guns.

“Dit is ʼn lekker gevoel om vir groot dinge op die tennisbaan te baklei; dit is immers my eerste keer in die eindstryd van ʼn Grand Slam-toernooi. Ja, die heel boonste plek op die wêreldranglys is binne my bereik, maar terselfdertyd voel dit ook so ver weg,” het Alcaraz gesê.

Tennisliefhebbers het aanvanklik gewonder of die jong Spanjaard oor die nodige deursettingsvermoë en geduld beskik om ʼn wedstryd wat oor vyf stelle beslis word te wen, maar hy het in New York elke ongelowige Tomas verkeerd bewys.

Sy laaste drie kragmetings is oor vyf stelle beslis en hy was amper 14 uur lank op die tennisbaan. Sy kwarteindstryd-tweestryd teen Jannik Sinner het vyf uur en 15 minute lank aangehou.

“Ek gaan alles in die eindstryd teen Casper gee. Natuurlik sal ek baie op my senuwees wees, maar ek is baie dankbaar om in so ʼn groot wedstryd te speel en ek gaan my bes doen om dit ook net te geniet.”

Op sy beurt het Ruud al die druk van ʼn Grand Slam-eindstryd ervaar. Die enigste probleem is dat hy eintlik die telling so gou moontlik sal wil vergeet.

Die 23-jarige Oslo-boorling het in die Franse Ope met 6-3, 6-3 en 6-0 in ʼn baie eensydige eindstryd teen Rafael Nadal vasgeval.

“Ek was baie trots om op die groot verhoog teen Rafa te speel, maar ek was toe nederig genoeg om te dink dat dit dalk die eerste en enigste Grand Slam-eindstryd van my loopbaan sou wees. Maar kyk, hier is ek weer!” het Ruud gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.