‘Wenstappen’: 50ste sege wink vir Max in Texas

Max Verstappen. (Foto: Twitter/Red Bull)

Max Verstappen het ʼn week of twee gelede sy derde Wêreldtitel op ʼn streep ingeoes toe hy tweede in die snelren van die Katar Grand Prix klaargemaak het.

Nodeloos om te sê het hy ook ʼn paar uur later met die wedrenlouere weggery; sy 14de oorwinning van die 2023-seisoen.

Nou wink nóg ʼn mylpaal vir die 26-jarige Red Bull-renjaer wanneer die F1-aksie hierdie naweek na Austin, Texas, verskuif.

Indien die geruite vlag weer eens vir Verstappen geswaai word, sal dit die 50ste oorwinning van sy F1-loopbaan wees.

Net Alain Prost, Sebastian Vettel, Michael Schumacher en Lewis Hamilton het meer kere op die hoogste trappie van die podium gestaan.

Maar Verstappen is deesdae ongetwyfeld die voorste renjaer: Sedert die aanvang van die 2021-seisoen het hy meer as die helfte van die 61 wedrenne gewen.

G’n wonder nie spanbaas Christian Horner bestempel hom as een van die beste bestuurders nóg.

“Dit is verreweg ons beste seisoen en ek dink ʼn mens kan nou in dieselfde asem van Max as van Jack Brabham, Ayrton Senna, Niki Lauda en sir Jackie Stewart praat. Alles wat hy vanjaar agter die stuur van sy renmotor gedoen het, was eenvoudig fenomenaal,” het die 49-jarige Engelsman gesê.

Verstappen het tans 433 punte op die jaerspunteleer en met die F1-seisoen in sy pylvak se rigting  sal dié voorsprong waarskynlik net verder rek.

Renjaers met die meeste wedrenseges:

  1. Lewis Hamilton: 103
  2. Michael Schumacher: 91
  3. Sebastian Vettel: 53
  4. Alain Prost: 51
  5. Max Verstappen: 49
  6. Ayrton Senna: 41
  7. Fernando Alonso: 32
  8. Nigel Mansell: 31
  9. Jackie Stewart: 27
  10. Jim Clark en Niki Lauda: 25

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.