Wêreldbeker-netbaltoernooi: Proteas storm voort

(Foto: Netball South Africa/Twitter)

Die Proteas het Saterdag in Kaapstad in die Wêreldbeker-netbaltoernooi met ʼn kliniese vertoning voortgebeur toe hulle Sri Lanka met 87-32 uit hul pad gevee het.

Suid-Afrika, wat Vrydagaand met ʼn oorwinning oor Wallis afgeskop het, se groot uitblinkers was Elmeré van der Berg en Nichole Taljaard wat die telbord aan die rol gehou het, asook Jeante Strydom wat met haar ses onderskeppings as speler van die wedstryd aangewys is.

Die Proteas het die eerste kwart met 24-9 gewen en was rustyd reeds met 45-18 voor.

Die afrigter Norman Plummer het ná rustyd vir Bongi Msomi en Shadine van der Merwe onderskeidelik met Karla Pretorius, wat haar 100ste wedstryd gespeel het, en Khanyisa Chawari vervang.

Die Proteas het die derde kwart met ʼn voorsprong van 68-24 afgesluit.

Nicola Smith is toe met Phumza Maweni vervang, terwyl Ine-Marí Venter vir Taljaard vervang het.

Suid-Afrika het in die laaste kwart voortgebou en met vyf minute oor die 80 punt-kerf verbygesteek.

Die Proteas se groot uitblinkers was Van der Berg wat met 50 van haar 57 pogings geslaag het.

Taljaard was ook vuurwarm en het met 24 van haar 27 pogings geslaag.

Suid-Afrika se eerste groot toets is Sondag se kragmeting met Jamaika, wat Sri Lanka is in sy eerste wedstryd met 105-25 oorrompel het.

Gister se ander uitslae: Nieu-Seeland 53, Uganda 40; Fidji 52, Zimbabwe 48, Australië 85, Tonga 38; Jamaika 75, Wallis 40.

Sondag se bepalings: Australië t Fidji, Nieu-Seeland t Singapoer; Malawi t Barbados, Wallis t Sri Lanka, Engeland t Skotland, Uganda t Trinidad en Tobao; Suid-Afrika t Jamaika; Tonga t Zimbabwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.