Wie sal uit Novak se Melbourne-skadu tree?

Rafael Nadal het positief vir Covid-19 getoets. Foto: Guiseppe Cacace/AFP.

Met dié dat Novak Djokovic se deelname aan die komende Australiese Ope aan ’n baie dun garingdraadjie hang, staan ’n hele paar spelers gereed om die septer by hom oor te vat.

Want vir die afgelope 13 jaar is die 34-jarige Serwiër beslis die nie-amptelike koning van Melbourne.

Nege titels (in 2008, 2011, 2012, 2013, 2015, 2016, 2019, 2020 en 2021) beklemtoon sy algehele oorheersing en in sy eie woorde word hy jaarliks net “liewer vir die Rod Laver-baan” in dié Australiese stad.

Maar indien die Australiese regering sy sin kry, sal daar vanjaar ’n nuwe kampioen in Melbourne gekroon word met spelers soos Rafael Nadal, Daniil Medvedev en Alexander Zverev wat gereed staan om die silwerware in ontvangs te neem.

En baie ondersteuners se gunstelingkeuse is ongetwyfeld Nadal.

Die gewilde Spanjaard het onlangs sy terugkeer tot mededingende tennis met ’n oorwinning by die Summer Set 1-toernooi in die einste Melbourne gevier en hy sal alles in die stryd werp om sy 21ste Grand Slam-titel in te oes. Indien hy dit regkry, sal hy die eerste tennisspeler wees om dié rekordgetal Grand Slams in te oes, ʼn droom wat Djokovic self koorsig nastreef.

Maar die 35-jarige Spanjaard was verlede jaar lank op die krukkelys – hy het onder meer die Olimpiese Spele en Wimbledon misgeloop, terwyl hy ook onlangs positief vir Covid-19 getoets het.

Ja, hy is beslis ’n bedreiging, maar ’n gebrek aan wedstrydtyd kan hom dalk kniehalter.

Daniil Medvedev. Foto: Twitter.

Dan is daar Medvedev, die Russiese skerpskutter wat gereeld op die groot verhoog uitblink.

Die wêreldno. 2-speler is fiks, vaardig en talentvol. Hy was ook die speler wat Djokovic se opmars gestuit het om al vier Grand Slam-titels in 2021 te wen.

Medvedev se sege van 6-4, 6-4 en 6-4 in New York was sy eerste Grand Slam-titel en die soetste oorwinning van sy professionele loopbaan.

Hy sal sekerlik honger wees om op dié sukses voort te bou.

Op sy beurt het Zverev met sy Olimpiese goue medalje in Tokio vir die wêreld gewys dat hy sterk genoeg is om nie in drukkoker-situasies te vou nie.

Die jong Duitser se enigste Grand Slam-eindstryd was 2020 in New York toe hy ’n gemaklike voorsprong teen Dominic Thiem weggesmyt het.

Alexander Zverev van Duitsland (21 Augustus 2021) (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP)

Sy rekord in Melbourne is ook nie te waffers nie, maar hy het twee jaar gelede vir die halfeindstryd gekwalifiseer.

Die Griek Stefanos Tsitsipas is ook een van die nuwe generasie spelers wat wag om sy stempel by ’n Grand Slam-toernooi af te druk.

Hy het gesorg dat Djokovic harde bene in die eindstryd van verlede jaar se Franse Ope moes kou, maar ’n onlangse elmboogoperasie kan hom in Melbourne terughou.

Dan moet spelers soos Jannik Sinner, Casper Ruud en Matteo Berrettini ook onder die buiteperde tel.

Die eerste wedstryde van die Australiese Ope begin Maandag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Treurwilger ·

“Frankly my dear, I don’t give a damn”.
( “Gone with the Wind”)

Net ‘n grappie!
Medvedev is my tweede keuse.

VaalDonkie ·

Wonder wie gaan oorbly want naas Djokovic moes nog drie ander onttrek oor hulle vaksientjies hulle siek gemaak het.

Dirk Mostert ·

Wie van die ge vaksiende deelnemers gaan volgende jaar terugkom?

Dirk Mostert ·

“Nadal was onlangs weer positief getoets”. Ten spyte van sy entings. Djokovic moet Australie se stof van sy voete afskud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.