Wimbledon: Fees van die ongekeurde

Marketa Vondrousova kort nadat sy vir Ons Jabeur in die Wimbledon-eindstryd geklop het. (Foto: Twitter/Wimbledon)

Marketa Vondrousova van die Tsjeggiese Republiek is die nuwe vrouekampioen van Wimbledon nadat sy met Tunisië se Ons Jabeur in die eindstryd afgereken het.

Sy het die kragmeting met 6-4 en 6-4 beklink om die eerste ongekeurde speler te word om met die louere op die ikoniese grasbane van Wimbledon weg te stap.

Vondrousova het ongetwyfeld die druk van die eindstryd beter as haar meer bekende teenstander hanteer en sy het ʼn rits potte op ʼn streep gewen.

Jabeur het weliswaar sterker in die tweede stel vertoon, maar die Tsjeg wou net nie gaan lê nie. Sy is op die baan rondgejaag, sy het geduik en toe sy die wenhou geslaan het, het sy sommer bly lê en op die naat van haar rug feesgevier.

ʼn Jaar gelede was sy ʼn toeris in Londen wat die aksie van langs die baan dopgehou het nadat sy ʼn operasie aan haar gewrig ondergaan het.

Nou is sy die koningin van Wimbledon.

“Dit is ʼn ongelooflike gevoel. Dit is nooit maklik om jou pad weer oop te veg ná ʼn besering nie – ʼn mens weet rêrig nooit wat om te verwag nie – maar tennis kan ʼn vreemde spel wees,” het sy ná afloop van die wedstryd gesê.

Vir Jabeur moet dit ʼn bitter pil wees om te sluk. Dit was haar tweede Wimbledon-eindstryd op ʼn streep en sy was die groot gunsteling om die silwerware omhoog te hou.

“Hierdie nederlaag is die een wat die seerste nóg maak. Die res van die dag gaan vir my moeilik wees, maar ek belowe om nie moed te verloor nie en ek sal sterker terugkom,” het die Tunisiër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.