Wolff hoop Mercedes het meer byt in 2024

Mercedes se Toto Wolff. (Foto: Jim Watson/AFP. )

ʼn Paar seisoene gelede was Mercedes so te sê onstuitbaar in die blitswêreld van F1. Die een vervaardigerstitel het op die ander gevolg en Lewis Hamilton het links en regs wêreldtitels ingeoes.

Maar deesdae swaai Red Bull die septer met Max Verstappen wat telkemale die vordering van Hamilton en George Russell in sy truspieëltjie dophou.

Tog is Toto Wolff optimisties oor Mercedes se kanse in 2024; selfs al het Hamilton reeds aangedui dat hy volgende jaar agter die stuur van ʼn Ferrari gaan inskuif.

Die nuwe W15 is onlangs onthul en die Silwer Pyle-spanbaas hou duim vas dat die renmotor weer die span se vuur sal stook.

“Ek is opgewonde oor die komende seisoen en natuurlik is ek nuuskierig om te sien hoe die nuwe motor op die renbaan vaar,” het Wolff gesê.

Die Oostenryker hou duim vas dat Mercedes van sy onderstelprobleme van 2023 uitgesorteer het.

“Ons het ʼn berg om te klim om weer voor te kom, maar ons is vasbeslote om dit te doen. Verlede seisoen was ons in ʼn verbete stryd met Ferrari, McLaren en soms Aston Martin gewikkel, terwyl daar ʼn groot gaping tussen Red Bull en die res van ons was. Hopelik gee ons nou ʼn tree in die regte rigting; nader aan Red Bull.”

Wolff het egter gewaarsku dat hy gʼn wonderwerk verwag nie.

“Red Bull het ʼn baie suksesvolle motor; hulle is die maatstaf vir die ander spanne. Ek weet nie wanneer ons hulle gaan klop nie – ek is nie ʼn siener nie – maar ons sal binnekort weet waar ons staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

Dit sal nogal ‘n slag ‘n plesier wees as die kompetisie taai is en nie ‘n weghol oorwinning soos altyd nie. Ek sien uit na ‘n lekker tawwe “close competition run” Maar uit ondervinding sal een span maar weer domineer en dit vreeslik voorspelbaar maak. Dan kyk ek liewer “noot vir noot”

daarsdit ·

Jy is doodreg Duck, ons het ook eerder “noot vir noot” gekyk toe mercedes gedomineer het al die jare tot 2021. Geniet dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.