Afrika-spele: Ruan druk tweede silwer los

Ruan Bronkhorst tydens die Afrika-Spele in 2023 (Foto: Team SA)

Dit was Saterdag in Akkra, Ghana, ’n heel rustige dag vir die Suid-Afrikaanse span wat aan vanjaar se Afrika-spele deelneem.

Dit het gevolg ná Vrydag se rype medaljeoes wat tien medaljes opgelewer het.

Die span se totaal het in die 18 sportsoorte waaraan hy deelneem, tot 93 gegroei (25 goud, 30 silwer en 39 brons) en dit is reeds meer as die 87 medaljes wat die span in 2019 in Marokko gewen het.

Egipte is voor met 154 medaljes (90 goud, 35 silwer en 29 brons).

Maar atletiek, tennis (Zoë en Bella Kruger), manskrieket en hokkie moet nog plaasvind wat die SA medaljeoes verder kan laat bult.

Ruan Bronkhorst het Saterdag ʼn silwermedalje in die armdruk met die regterhand (100 kg-afdeling) gewen. Mostafa Hassanin van Egipte het die goue medalje verower toe hy Bronkhorst geklop het.

Bronkhorst het Vrydag die silwermedalje met die linkerhand verower.

In die kwalifiserende rondes is Graham Verwey, Alec Durand en Frederick Kruger in die mansafdeling geklop en het Rosemary Botha en Meri Prinsloo het in die vroue-afdeling verloor.

In fietsry het Suid-Afrika ʼn silwermedalje in die gemengde spanafdeling losgejaag.

In die bokskryt is Amzolele Dyeyi en Simnikiwe Bongco geklop, terwyl Sanele Soqcwayi sy geveg in die 60 kg-afdeling teen Ayari Saiefeddine van Tunisië gewen het.

Bron:  Span SA (Saskok)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.