Akani, Zenéy laat waai sommer vroeg by SA Kampioenskap

Akani Simbine is in ’n veglustige bui in Pietermaritzburg. (Foto: Gerrit van der Linde)

Akani Simbine het dalk vanjaar nog nie veel mededingende 100 m-sessies agter die blad nie, maar die 30-jarige naelloper is ongetwyfeld die gunsteling om weer met die nasionale titel by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Pietermaritzburg weg te hardloop.

Simbine het in die eerste uitdunronde hakskene vir sy teenstanders met ʼn vinnige tyd van 10.07 s gewys, waarna hy in winderige toestande 10.27 s (amptelike tyd) in die halfeindronde gehardloop het.

Die Olimpiese kwalifiserende tyd in dié item is 10.0 s.

Volgens die Suid-Afrikaanse rekordhouer – wie sal sy spoglopie van 9.84 s in Hongarye vergeet – is hy tevrede met sy eerste twee lopies in Pietermaritzburg.

“Ek is baie bly dat ek die sessie fiks en sonder probleme kon afsluit. Nou moet ek net seker maak dat ek my titel suksesvol verdedig. Dit is vir my iets persoonliks – dit is immers waarom ek hier is. ʼn Mens moet vir die land en die wêreld wys dat jy steeds ʼn krag is waarmee daar rekening gehou moet word,” het die vyfmalige nasionale kampioen gesê.

Die 100 m-eindstryd word vanmiddag om 17:30 beslis.

Zenéy Geldenhuys op die voorvoet. (Foto: Gerrit van der Linde)

Dan het Zenéy Geldenhuys ook in die 400 m-hekkiesitem laat wiel.

Die jong Pretorianer – wat onder meer met ʼn paar Afrika-titels en ʼn bronsmedalje by die Statebondspele spog – het haar uitdunrondelopie op ʼn drafstap met 57.14 s gewen.

Sy was meer as ʼn sekonde vinniger as Gezelle Magerman (58.87 s) in die tweede plek.

Die opwindende oudatletiekster van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria is ook verwant aan Jan Hendrik van der Westhuizen, Suid-Afrika se eerste sjef wat ʼn Michelin-ster ontvang het.

Van der Westhuizen het vroeër vir Maroela Media gesê dat hy baie trots op sy vinnigste familielid is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.