Carina terug in die vinnige baan

Carnia Horn. Foto: Reg Caldecott.

Ná die afgelope paar jaar se onsekerheid is Carina Horn weer terug waar sy hoort: in die vinnige baan.

Die 33-jarige naelloper is die SA 100 m-kampioen nadat sy in April ’n aanslag van Phindile Kubheka en Tamzin Thomas afgeweer het om met die louere weg te stap.

Ja, haar wentyd van 11,54 sekondes is weliswaar stadiger as haar nasionale rekordtyd van 10,98 sekondes, maar ’n mens kan haar groot glimlag verstaan.

“Alles het vir my om die titel gedraai. As jy my ’n maand voor die nasionale kampioenskap gevra het of ek van plan was om deel te neem, sou ek waarskynlik nee geantwoord het,” het sy in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Die talentvolle naelloper het in 2019 positief vir verbode middels getoets, maar sy het altyd aangevoer dat sy onskuldig is en dat haar aanvullings die eintlike sondebok was.

Volgens berigte het sy selfs die hulp van ’n wetenskaplike ingeroep en die Internasionale Atletiekvereniging se Integriteitskomitee het uiteindelik gehoor gegee; sy is daarna vir twee jaar in plaas van die gebruiklike vier jaar geskors.

Volgens Horn was daardie twee jaar waartydens sy haar onskuld probeer bewys het, die moeilikste van haar loopbaan.

Tog het elke wolk ’n silwer randjie. En haar geval was dit om weer te kan deelneem en die SA titel in te oes.

 Foto: Verskaf.

“Die feit dat ek ná alles kon terugkom – ek oefen nou eers weer vir ’n paar maande nadat ek vir ’n hele ruk langs die baan was – het beteken dat die suksesvolle titelwedloop ’n baie spesiale ervaring was.”

Deesdae is haar dagboek weer propvol inskrywings: Daar is die komende Afrika-kampioenskap, die Europese atletiekseisoen en dalk selfs die Wêreldkampioenskap en die Olimpiese Spele in 2024.

Toegegee, sy is reeds in haar 30’s, maar Jamaika se Shelly-Ann Fraser-Pryce was immers 34 jaar oud toe sy die silwer medalje tydens die Tokio-spele losgehardloop het.

“Ek oefen twee keer per dag; een sessie op die baan en die ander in die gimnasium. Só ’n sessie kan tot drie uur op ’n slag aanhou. Ek glo dat ek nog nie die vinnigste tyd van my loopbaan gehardloop het nie.”

Carina Horn op volle vaart. Foto: Reg Caldecott/ANA

Horn vertel dat sy op skool eerder hokkie en krieket gespeel het.

As ’n bouler kon sy kolwers laat bontstaan (sy kon teen 125 km/h boul), terwyl sy ook die kolfwerk vir haar span geopen het.

“In my laaste skooljaar het ek egter ’n besering op die hokkieveld opgedoen omdat die ander span se spelers veel eerder vir my as die bal gegaan het. Ek het toe besluit om eerder op naellope te fokus omdat my eie voorbereiding en ingesteldheid dan my lot bepaal.”

Sedertdien het sy die SA rekord eers na 11,03 sekondes en toe na daardie 10,98 sekondes in Doha verbeter.

Is sy nog op haar senuwees voor die afsitter die sneller trek?

“Ja natuurlik, maar dit is goeie senuwees. Dit is goed om op jou senuwees te wees want dit skakel oor na opgewondenheid. Terselfdertyd is jou vermoë om druk te kan hanteer belangrik; dit is iets wat ’n mens danksy ervaring aanleer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Dalk is dit net ek, maar persoonlik voel ek die onus berus 100% op ‘n atleet om absoluut te verseker dat die “aanvullings” wat hul neem, voldoen aan die vereistes soos daargestel deur die Internasionale Atletiekvereniging .

Geen verskonings…..

johan ·

Haar rekords behoort gekanselleer te word omdat dit opgestel is met die hulp van verbode middels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.