Caster se 5 000 m-wentyd nog te stadig vir Spele

Caster Semenya vandag in aksie in die 5 000 m-item by die nasionale kampioenskap. Foto: Phill Magakoe/AFP.

In die verlede sou Caster Semenya so te sê verseker wees van ’n plek in die Olimpiese span te danke aan haar spogvertonings in die 800 m, maar die gouemedaljewenner moet nou ’n moeiliker roete na Spele-glorie aanpak.

Semenya het vandag by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Pretoria haar persoonlike beste tyd in die 5 000 m gehardloop om die item in ’n tyd van 15:52:28 min te wen, maar dit is steeds nie vinnig genoeg om vir die Spele te kwalifiseer nie.

Indien sy die 5 000 m-pad sou volg om vir die Spele te kwalifiseer, sal sy ’n tyd van 15:10:00 min moet hardloop.

Die wedloop in Pretoria is 1 339 m bo seespieël aangebied en volgens AFP oorweeg Semenya dit om die afstand in ’n kusstad aan te pak waar die tye normaalweg vinniger is.

“As daar iets in Mei in Durban aangebied word, sal ek dit oorweeg om daar te gaan hardloop,” het Semenya gesê.

Sy het tot 29 Junie kans om vir die Spele te kwalifiseer.

Die 30-jarige atleet het haarself vroeër vanjaar tot die Europese menseregtehof gewend nadat die Switserse hooggeregshof verlede jaar beslis het dat haar 800 m-dae verby is totdat sy instem om medikasie te gebruik wat sal help om haar testosteroonvlakke te verlaag.

“Ek hoop hierdie hof sal ’n einde bring aan die langdurige menseregteskendings deur Wêreldatletiek teen vroue-atlete,” het Semenya destyds gesê.

José María Odriozola, ’n Spaanse professor in biochemie en lid van die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies (IAAF), het onder meer gesê dat die Suid-Afrikaner meer testosteroon as die meeste mans het, en daarom ’n onregverdige voordeel het.

Semenya het in Mei 2019 ʼn grensverskuiwende saak teen die IAAF voor die hof vir sportarbitrasie (CAS) verloor, wat beteken sy moet medikasie gebruik om haar testosteroonvlakke te verlaag as sy voortaan aan spesifieke items wil deelneem.

Die Olimpiese ster het in die verlede aangedui sy die 200 m-wedloop wil gebruik om vir die Spele te kwalifiseer, maar sy het intussen van plan verander en op langer afstande besluit.

“Ek is 30 jaar oud en as ek nou met naellope begin sal dit ’n risiko vir my spiere wees. In langer afstande het ’n mens meer tyd om jou voete te vind.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.