Diamantliga-atletiek: Duplantis kry slae

‘n Teleurgestelde Armand Duplantis. (Foto: VIRGINIE LEFOUR / BELGA / AFP) / Belgium OUT

Die teleurstelling en pyn op die gesig van Armand Duplantis, die wêreld-, Olimpiese en Europese paalspringkampioen van Swede, het Vrydagaand in Bussel die ware storie vertel.

Duplantis, die atleet wat paalspring die afgelope paar jaar oorheers, is die eerste keer sedert Augustus 2021 geklop toe die onbesonge Ernest Oviene van Filippyne met 5,91 m ʼn skokoorwinning op die Diamantligabyeekoms behaal het.

Die beskeie Duplantis het drie keer op ʼn hoogte van 5,91 m misluk, terwyl Oviene met sy derde poging geslaag het. Duplantis het aan BBC gesê dat hy “ook net menslik is en foute begaan”.

Die Jamaikaanse veteraan Shelly-Ann Price, ʼn vyfmalige wêreldkampioen, is ook die eerste keer in vanjaar se Diamantliga in die 100 meter vir vroue geklop.

Fraser-Pryce, (10.74 sek.) wat die vorige byeenkoms in Lausanne weens ʼn dyspierbesering misgeloop het, is deur haar landgenoot Shericka Jackson (10.73 sek.) naelskraaps uitgestof. Ta Lou Marie-Josée van Ivoorkus was derde (10.78).

In van die ander groot hoogtepunte was dié van die Brit Jake Wightman, wat die eerste keer onder 1 minuut en 44 sekondes in die 800 meter vir mans gedraai het toe hy die wedloop in 1:43.65 gewen het.

Daar was verdere vreugde vir die Ier Ciara Mageean wat die 1 500 meter vir vroue in 3:56.63 gewen het. Dit was die eerste keer dat sy onder vier minute kon draai.

In die 5000 meter vir mans was Jacob Krop van Kenia eerste in 12:45.71. Hy het die Amerikaner Grant Fisher (12:46.96) uitgestof, wat nietemin die Amerikaanse rekord laat spat het.

Nog ʼn Amerikaner, Kara Winger, wat aan die einde van die seisoen uittree, het die spiesgooi met ʼn afstand van 68,11 m gewen, wat die Amerikaanse nasionale rekord laat spat het.

In die hoogspring vir vroue het Yaroslava Mahuchikh van Oekraïne met ’n hoogte van 2,05 m gewen, wat die beste hoogte van die seisoen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.