Gits, maar Tuks is ingenome met sy Affie-blits

Foto: Reg Caldecott.

Een van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se blinkste naelloper-sterre, Eckhart Potgieter, kan binnekort die land se atletiekbane in die kleure van Tukkies aan die brand hardloop.

Die 18-jarige blits het vroeër vanjaar gedurende die Gauteng-Noordkampioenskap die 100 m in ’n spoggerige tyd van 10,29 sekondes kafgedraf, terwyl hy sy 200 m in 20,58 sekondes voltooi het.

En nou vir die statistieke wat atletiekliefhebbers sal laat regop sit: Sy tye vergelyk baie gunstig met dié van Akani Simbine (10,57 sekondes en 21,27 sekondes) en Wayde van Niekerk (10,58 sekondes en 21,02 sekondes) toe hulle ewe oud was.

“Ek twyfel nie vir een oomblik dat hy selfs vinniger kon gehardloop het as dit nie vir die nasionale afsonderingstydperk was nie. Ons sal sy talent na die beste van ons vermoë hier by Tukkies bestuur,” het die Pretoriase universiteit se Danie Cornelius gesê.

“Eckhart se veelsydige vermoëns maak my baie opgewonde. Hy begin baie goed, is vinnig om die draai en kan sy spoed handhaaf. Hy is ’n aanwins vir enige aflosspan.”

So van aflosse gepraat – Potgieter is saam met Bjorn van Wyk, André Erasmus en Joshua Nel die huidige 4×100 m-rekordhouers vir die o.19-groep. Die Affie-blitse het vroeër vanjaar ’n manjifieke 40,51 sekondes in Roodepoort gehardloop.

Nou, ’n aflosspan is normaalweg net so goed soos sy stadigste atleet, maar in die Witblits-groep van 2020 was daar letterlik géén swak skakel nie. Van Wyk (10,5 sekondes), Erasmus (10,5 sekondes), Nel (10,6 sekondes) en Potgieter (10,3 sekondes) het elkeen hul individuele lopie in minder as 11 sekondes kafgedraf.

Die Junior Wêreldatletiekkampioenskap word volgende jaar in Kenia aangebied en Cornelius glo dat Potgieter een van die medaljewenners kan wees.

Hy is goed genoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J ·

Wonderlike Atletiek nuus! Dankie!

Die res van ASA is maar ‘bad news’ … vrot spul van ‘gender benders’ en pil ‘poppers’!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.