Goue Affie laat gewigstootrekord spat

Hencu Lamberts spog met sy medaljes. (Foto: Roger Sedres/Verkaf)

Suid-Afrika het 20 medaljes by die Statebond-Jeugspele in Trinidad en Tobago ingeoes en een van die span se groot helde is ongetwyfeld die 16-jarige Hencu Lamberts.

Dié leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria het sy silwermedalje in die diskusitem met gewigstootgoud opgevolg. En boonop het sy toppoging van 20,17 m terstond die Statebondrekord laat spat.

Sy ma, Yvette, was ook in Port of Spain om sy vertoning vanuit haar pawiljoensitplek dop te hou.

“Die diskusmedalje is ʼn onverwagse bonus en ʼn lekker verrassing – ons het nie geweet dat hy daarvoor ingeskryf is nie. Gewigstoot is egter sy voorkeuritem en dit was ekstra spesiaal dat hy ook dié rekord kon verbeter,” het sy aan Maroela Media tussendeur haar vlugte op pad terug na Suid-Afrika gesê.

“Ek kon kon sy gesig en blydskap sien toe hy met daardie merkwaardige poging vorendag gekom het. ʼn Mens is baie gelukkig om dit regstreeks te kon ervaar.”

Sy vertel dat Hencu vier dae per week aan sy vaardighede skaaf; só ʼn oefensessie bestaan uit twee ure in die gimnasium, waarna hy onder die bekwame toesig van sy afrigter aan sy tegniek en soveel meer op die atletiekveld werk.

“Vir die res van die tyd is dit dan draf, fiksbly en kondisionering – om nie eens van sy skoolwerk te praat nie!”

Hencu droom daarvan om eendag sy stempel by ʼn Diamantligabyeenkoms of die Olimpiese Spele af te druk.

Tog loop drome en opofferings soms op dieselfde kronkelpad na sukses en hy het besluit om slegs op sy atletiekdroom te fokus.

“Hy sit soms met trane in sy oë en kyk hoe Affies rugby speel, maar hy kan ongelukkig nie daardie risiko waag om ʼn besering op te doen nie. Dit is waarom hy besluit het om sy volle aandag aan atletiek te gee.”

Nodeloos om te sê glo hy dat hy ʼn gewigstootbal selfs verder deur die lug kan laat trek.

“Sy mikpunt is om voor die einde van die jaar die nasionale rekord te verbeter, terwyl ʼn afstand van 21 m sy persoonlike doelwit is. Dit is beslis interessante tye wat voorlê en ons hou duimvas vir hom; ek dink 21 m is ongetwyfeld die goue afstand in sy gedagtes.”

Hou Maroela Media volgende week dop vir ʼn onderhoud met Alicia Khunou; nóg ʼn Suid-Afrikaner wat ʼn gewigstootrekord in Trinidad en Tobago verbeter het.

GOUD VIR HENCU LAMBERTS IN JEUG SPELEHencu (gr. 11) het nie verniet sy tasse gepak om in Trinidad en Tobago aan die…

Posted by Afrikaanse Hoër Seunskool – Affies on Wednesday, August 9, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.