Jong Garsie-diskusgooier is goud werd

Simoné Kruger in aksie vir Hoërskool Garsfontein. (Foto: Andries Kruger)

In Suid-Afrika haal die prestasies van ʼn Tatjana Schoenmaker en ʼn Karla Pretorius gereeld die hoofopskrifte. Tog kan die kollig gerus ook helder op Simoné Kruger skyn; sy is ongetwyfeld goed genoeg.

Onderkry is min vir dié 18-jarige leerder van Hoërskool Garsfontein in Pretoria en sy is ʼn sportster wat omtrent die atletiekrekords laat spat.

Tog moes die eerste paar hoofstukke van haar atletieksuksesverhaal nie maklike leesstof gewees het nie.

Simoné het reeds in haar ma se baarmoeder ʼn beroerte gehad en dit het tot hemiplegie, of eensydige verlamming, gelei.

Maar harde werk, deursettingsvermoë, hope liefde en baie ondersteuning het ʼn moeilike pad meer gelyk gemaak en sy het die afgelope naweek weer eens op die atletiekbaan geskitter.

Die jong atleet het by ʼn internasionale Paralimpiese geakkrediteerde byeenkoms op Pilditch ʼn spogafstand van 36,38 m in die diskusitem behaal.

Hier spog sy met haar silwer medalje by die Wêreldkampioenskap. (Foto: Verskaf)

Dit is haar beste afstand nóg en die Afrikarekord geniet nou al ʼn permanente staanplek langs haar naam.

“Toe my sussie 12 jaar oud was, het sy by my pa (Andries) begin diskus oefen,” het Simoné vandeesweek vir Maroela Media vertel.

Die diskusgogga het haar ook kort voor lank gebyt en in die einste jaar dat sy haar buiging vir Laerskool Maragon gemaak het, was sy ook by haar eerste internasionale byeenkoms in Portugal in aksie.

In 2019 het sy as 14-jarige die wêreldrekord verbeter en hoewel Kanada se Renée Foessel intussen die rekord by haar afgerokkel het, is sy oorgehaal om dit weer haar eie te maak.

Sy gaan juis binnekort ʼn gulde geleentheid kry om dié doelwit, asook haar gouemedaljedroom, by die Wêreldkampioenskap in Frankryk te verwesenlik.

“Ek het in 2019 die silwer medalje in Dubai losgegooi en dit sal lekker wees om op die hoogste trappie van die podium te staan. Ons is twee kategorieë (F37 en F38) wat saam deelneem en China se Mi Na is die verdedigende wêreldkampioen.”

Sy het die Afrika-rekord al ’n paar keer verbeter. (Foto: Verskaf)

Sy erken dat dit tog met tye moeilik is om te oefen.

Atletiek speel gereeld tweede viool teen ʼn gewilde wintersportsoort soos rugby, terwyl ʼn mens sekerlik ook skool- en huiswerk in ag moet neem.

“As paraplegiese atleet word my bene dikwels vinnig moeg en ek kan nie noodwendig altyd by die ander atlete kers vashou nie – veral wat die getal oefengooie betref. Ek dink tog dat ek baie harder as hulle moet werk, juis omdat ek so getrou moet oefen.”

Snaaks genoeg knaag die senuwees glad nie wanneer sy aan ʼn kompetisie deelneem nie.

“Ek het maar my maniertjies om my sport te geniet en ek gesels, lag en ontspan na die beste van my vermoë. Dit help my veral wanneer ek by ʼn groot byeenkoms in aksie is.”

(Foto: Andries Kruger)

Haar gesin se ondersteuning speel ook ʼn beduidende rol in haar atletieksukses.

“Ons almal is baie lief vir sport en my pa is my afrigter. Ons het al soveel spesiale tye saam gehad en ons verstaan mekaar baie goed.”

Een van Simoné se groot atletiekhelde is Jamaika se Usain Bolt, terwyl sy ook baie respek vir Suid-Afrika se eie Wenda Nel het.

“[Wenda] is ʼn stralende en bemoedigende persoon wat nog altyd openhartig oor haar verhouding met haar Skepper is.”

Volgens Simoné wil sy ʼn soortgelyke lewenspad as die voormalige hekkies-uitblinker stap.

“My droom is om vir nog baie jare aan die Paralimpiese Spele deel te neem en oral waar ek gaan die naam van die Here te verkondig en my lig te laat skyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.