LJ praat oor die Olimpiese Spele

(Foto: AP Photo/Jae C. Hong)

Volgens belanghebbendes sal die Olimpiese Spele wel vanjaar in Tokio plaasvind. Maar in die onsekerheid van Covid-19-era waai beplanning en bepalings maklik by ’n leë stadion se losievenster uit.

LJ van Zyl glo ook dat daar ’n sterk moontlikheid is dat die Spele sal voortgaan.

Die 35-jarige voormalige hekkiesatleet het onder meer goud by die Statebondspele gesmaak, terwyl hy ook die o. 20-wêreldkampioen was. Boonop is sy spogtyd van 47,66 sekondes steeds die Suid-Afrikaanse rekord in die 400 m-hekkies.

Daarbenewens is hy ook besig met ’n graad in Olimpiese Studies in Duitsland, terwyl hy verlede jaar saamgestem het met die besluit om die Spele uit te stel.

“Ek dink dit sal wel vanjaar voortgaan. Die finansiële implikasies is te groot indien dit gekanselleer sou word. Maar daar sal baie streng maatreëls toegepas word,” het Van Zyl vandeesweek aan Maroela Media gesê.

LJ van Zyl (middel). Foto: ANA

Volgens Van Zyl sal die gewone maatreëls – soos toetse en streng kwarantynregulasies – in die Olimpiese dorp toegepas word.

“Ek dink ook daar kan baie minder atlete as normaalweg wees. ’n Land sal byvoorbeeld net ’n paar atlete stuur om die getalle te beperk. Hulle sal dan heeltemal afgesonder in die Olimpiese dorp bly.”

Die Olimpiese Spele is sinoniem met passievolle ondersteuners en ’n volgepakte stadion. Van die voorste sportmanne en -vroue ter wêreld sê juis dat dit die skare se aanmoediging was wat hulle tot Spele-glorie aangespoor het.

Deesdae begin atlete en toeskouers by leë stadions aan te pas: Alles in ’n poging om te keer dat die virus versprei.

Maar probeer jou net ’n doodse stilte vóór die 100 m-wegspring indink. Onwerklik, nie waar nie?

“Ek sal egter ’n leë stadion bo geen stadion verkies. Organiseerders sal waarskynlik ’n virtuele skare op die been bring om atlete aan te moedig.”

Volgens Van Zyl moet dit bitter moeilik vir ’n atleet wees om vir die Spele voor te berei – veral met die moontlikheid dat dit gekanselleer kan word in sy agterkop.

“Dit is nou al die einde van Januarie en daar is nog geen definitiewe byeenkomste vir die volgende agt weke vir ons Suid-Afrikaanse atlete geskeduleer nie. Dit is ook moeilik vir atlete wat reeds vir 2020 gekwalifiseer het – jy kan ook net soveel doen om skerp te bly.”

Hy het egter verlede jaar gesê dat hy positief is oor die toekoms van Suid-Afrikaans atletiek.

“In die laaste paar jaar het die kwaliteit van deelname aansienlik in Suid-Afrikaanse atletiek verbeter. Hier is nou ’n 400 m-veld waar ’n klompie ouens vinniger as 50 sekondes kan hardloop en ʼn mens is ook vooraf onseker wie die item gaan wen. Dan word die Pilditch-stadion opgradeer – dit is ’n lekker vinnige baan waar Michael Johnson destyds die 300 m-wêreldrekord aan flarde gehardloop het,” het hy destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Daar is ‘n baie klein tot geen kans dat die Spele sal voortgaan nie. Dit sal dwaas wees om daarmee voort te gaan… Sorry Japan!

Die Wolf ·

Konsentreer op fiksheid . Vergeet wat gaan of nie gaan gebeur nie.

Jaco ·

Gaan hy dit maak vir die SA Olimpiese Span? Weet hy van raskwotas in sport? As jy wit is in dié anti-wit SA, oppas maar vir “hoë verwagtinge”. Dié land se 2 stelle reëls, met die 2de stel wat meer drakonies is vir wit mense, bring wit mit hoë verwagtinge vinnig plat aarde toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.