Warholm is wraggies ’n warrelwind

Karsten Warhol vier sy blitslopie. Foto: Anton Geyser/SASPA.

Noorweë se Karsten Warholm het gister weer eens die verbeelding van atletiekondersteuners aangegryp toe hy die wêreldrekord in die 400 m-hekkiesitem tot 45.94 sekondes verbeter het.

Niemand het nog ooit so vinnig oor die item se stel hekkies geseil nie en – soos wat dit maar met enige baanrekord gaan – begin jy onwillekeurig te wonder hoe hy in ander items sou gevaar het.

’n Mens kan so iets seker nooit met sekerheid sê nie, maar volgens Wêreldatletiek se voorspellings kon sy ekwivalente 400 m-tyd 42.75 sekondes gewees het. ’n Hele paar millisekondes vinniger as Wayde van Niekerk se wêreldrekordtyd van 43.03 sekondes.

Die Amerikaner Rai Benjamin se silwermedaljepoging van 46.17 sekondes is die tweede vinnigste 400 m-hekkiestyd nóg. En LJ van Zyl meen dat al twee sterre die 400 m-wêreldrekord kan verbeter indien hulle spesifiek daarvoor sou oefen.

Volgens die Suid-Afrikaanse rekordhouer is Benjamin vinniger oor 200 m en 400 m, maar Warholm is tegnies en takties ’n ongelooflike atleet.

“Warholm hardloop normaalweg tot by die negende hekkie teen ’n pas van 13 treë tussen elke hekkie, waarna hy na 15 treë oorskakel. Hierdie korter pasritme (tussen hekkie nege en tien) beteken dat hy later weer wenpaal toe kan versnel. Daarteenoor hardloop Benjamin regdeur teen ’n pas van 13 treë tussen elke hekkie,” het Van Zyl gesê.

Dit is egter nie net die mans wat blitsige 400 m-hekkiestye opstel nie.

Sydney McLaughlin het ook haar eie wêreldrekord verbeter. Foto: Javier Soriano/AFP.

Sydney McLaughlin het vanoggend net soos Warholm gemaak en haar eie wêreldrekord verbeter. Die 21-jarige Amerikaanse sensasie het die goue medalje met haar spogtyd van 51.46 sekondes gewen.

Dalilah Muhammad se silwermedaljepoging van 51.58 sekondes was ook vinniger as McLaughlin se eerste rekordtyd van 51.90 sekondes, terwyl Nederland se Femke Bol derde was in 52.03 sekondes.

  • Karsten Warholm se ekwivalente tye (volgens Wêreldatletiek se voorspellings):

100 m: 9.62 sekondes

200 m: 19.25 sekondes

400 m: 42.75 sekondes

110 m-hekkies: 12.56 sekondes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Ja, Wereldatletiek, dis net voorspellings. Hoe lyk Bolt se voorspellings???
Dit gaan oor die DOEN daarvan. Net Wayde kon nog ‘n sub 10 100m, sub 20 200m en ‘n sub 44 400m hardloop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.