Blitsige Max ook deur Laureus vereer

Max Verstappen het beslis rede om fees te vier. Foto: Twitter.

Sondag 24 April 2022 moes ’n goeie dag vir Max Verstappen gewees het.

Hy het nie net sy F1-seisoen weer met ’n klinkende oorwinning in Italië op koers gekry nie, maar is ook as die Laureus-sportman van die jaar aangewys.

Novak Djokovic (tennis), Caeleb Dressel (swemmer), Eliud Kipchoge (marathon-atleet), Robert Lewandowski (sokkerspeler) en Tom Brady (Amerikaanse voetbal-ster) was die ander benoemdes in dié kategorie.

“Dit was ’n baie spesiale jaar vir my. Ja, ek was die hele tyd onder druk, maar dit is uiteindelik wat dié sport so opwindend maak,” het die jong Red Bull-renjaer gesê.

Verstappen het verlede jaar sy eerste F1-titel ingeoes nadat hy op dramatiese wyse Lewis Hamilton in die finale ronde van die Abu Dhabi-wedren verbygesteek het.

“Ek sou egter nie hierdie toekenning in ontvangs kon neem as dit nie vir almal was wat so hard agter die skerms werk nie.”

Hy het ook hulde aan sy pa, die oudrenjaer Jos Verstappen, gebring.

“Ek is dankbaar vir elke oomblik wat ons saam in hierdie suksesverhaal kan deel en hopelik is daar nog baie goeie herinneringe wat op ons wag,” het die verdedigende wêreldkampioen gesê.

Verstappen is F1 se eerste Nederlandse wêreldkampioen en hy het verlede jaar tien keer met die wedrenlouere weggejaag, terwyl hy altesaam 18 keer op die podium gestaan het.

Soos wat sake op die jongste jaerspunteleer staan, is hy in Charles Leclerc se truspieëltjie in die tweede plek, terwyl Red Bull ook vordering op die vervaardigerspunteleer maak.

“Vandat ek ’n kind is droom ek al daarvan om ’n goeie renjaer te wees en ek is baie trots op die prestasie en almal wat my op hierdie pad bygestaan het.”

Ander Laureus-wenners:

  • Sportvrou van die jaar: Elaine Thompson-Herah (ster-atleet van Jamaika).
  • Span van die jaar: Italië se manssokkerspan.
  • Deurbraak-sportster van die jaar: Emma Raducanu (Groot-Brittanje se jong tennissensasie).
  • Terugvegpoging van die jaar: Sky Brown (skaatsplankryer van Groot-Brittanje).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

Wel gedaan Max jy wys almal dat jy nie verniet wereld kampioen is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.