Brad Binder soos blits uit die blokke

Die Suid-Afrikaanse Brad Binder Moto GP Grand Prix. (Foto: KARIM JAAFAR / AFP)

Die Italiaanse MotoGP was Sondag op die Mugello-baan in Scarperia e San Piero ʼn groot triomf vir die plaaslike ondersteuners.

Die Grand Prix is deur die Italianer Francesco Bagnaia voor sy tuisskare op ’n Italiaanse Ducati gewen, met drie ander Ducati-jaers onderskeidelik in die vierde, vyfde en sesde plekke.

Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) het 16de weggespring, maar hy was blitsig weg en het tot negende opgeskuif.

Hy het nog verbeter en was met ʼn paar rondes oor in die sewende posisie, waar hy enduit gebly het.

Ai, as hy maar net beter in kwalifisering kan vaar!

Die huidige wêreldkampioen, Fabio Quartararo (Yamaha), was tweede met Alex Espargaro (Aprilia) derde, gevolg deur die drie Ducati-jaers, Johann Zarco, die groentjie Marco Bezzecchi (Ducati) en Luca Marini (Ducati).

Ducati het hiermee sy voorsprong in die vervaardigersafdeling verder vergroot.

Dit was Bagnaia se tweede oorwinning vanjaar nadat hy vroeër ook die Spaanse Grand Prix gewen het.

Hy het vyfde weggespring en het die voortou by die jong Bezzecchi oorgeneem toe daar nog 15 rondes oor was.

Darryn Binder, Brad se jonger broer, het 16de geëindig.

Quartararo (122 punte) is steeds voor op die kampioenskapspunteleer, gevolg deur Espargaro (114) en Enea Bastianini (94).

Quartararo kon nog net die Portugese Grand Prix vanjaar wen, maar hy het in drie ander renne tweede geëindig en elke keer 20 punte verdien.

Brad Binder, wat Sondag 9 punte verdien het, het 65 punte en is steeds sewende. Sy beste posisie vanjaar was sy tweede plek in Katar.

Darryn Binder (6 punte) is 22ste.

Die volgende Grand Prix is die Katalaanse Grand Prix op 5 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Dit is daar op die baan waar die manne van die seuns geskei word Brad.Hy is goed maar nie wêreldkampioen gehalte nie.

Martin ·

Nog nie, en hy het huidiglik ook nie die beste fiets om mee te jaag nie.

Brian ·

Brad het ongelooflike talent, maar die KTM waarmee hy nou meeding kan nie bybly nie. Net terloops, Brad was in 2016 die Moto3 wêreldkampioen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.