Djokovic sterk op pad na 90ste ATP-titel

Deur Rudolph Lake

Novak Djokovic (Foto: (Xinhua/Qin Lang)(hcs)/wire.africannewsagency.com)

Novak Djokovic blyk onkeerbaar op pad na sy 90ste ATP-titel te wees.

Die 35-jarige Serwiër het Donderdag net 71 minute nodig gehad om Botic van de Zandschulp van Nederland met 6-3 en 6-1 van die baan te vee en sodoende tot die kwarteindronde van die Astana‑ope in Kasakstan deur te dring.

Djokovic het reeds Woensdag die eerste waarskuwingskote gevuur dat hy die titel syne wil maak deur Cristian Garin van Chili binne 64 minute met 6-1 en 6-1 te vermorsel.

Die 21-malige Grand Slam-kampioen ry tans op die kruin van die golf nadat hy Sondag die Tel Aviv‑ope-titel agter sy naam geskryf het deur Marin Cilic met 6-3 en 6-4 te troef.

Dit was sy derde toernooi-oorwinning in ’n frustrerende jaar waarin hy deur beserings gery is en ook gekortwiek word deur sy weiering om ingeënt te word.

“My afslane het goed gewerk die kere wat ek in die moeilikheid was,” het Djokovic agterna gesê. Hy het in sy laaste drie wedstryde nog nie een keer sy afslaan verloor nie.

Die Serwiër het in die tweede stel vyf potte op ’n streep ingepalm om die oorwinning te beklink.

“In die tweede stel was ek meer op my gemak en ek het die bal suiwer geslaan. Ek het ook sy afslane beter begin lees en kon meer aanvallend speel. Botic is ’n gerekende speler en kan jou baie maklik onder groot druk plaas en seermaak. So ek is verlig dat alles goed verloop het,” het Djokovic gesê.

Dit is die agtste keer in nege toernooie dat die Serwiese ster die kwarteindronde van ’n toernooi haal.

Sy teenstander in die stryd om ’n plek in die halfeindronde is Karen Khachanov, wat die negende gekeurde Marin Cilic met 2-6, 6-3 en 6-3 uitgeskakel het.

Kyrgios verander van rat

Op ’n reënerige dag in Tokio het die Australiër Nick Kyrgios ’n storm van ’n ander aard afgeweer in sy oorwinning oor Kamil Majchrzak van Poland.

Die 27-jarige Kyrgios het ná ’n teleurstellende eerste stel teruggeveg en uiteindelik in drie stelle met 3-6, 6-2 en 6-2 as oorwinnaar van die baan gestap in die tweede ronde van die Japan-ope.

Die vurige Aussie het vinnig met 0-3 agtergeloop ná swak afslaanwerk en kon nie enige breekpunte in die eerste stel bewerkstellig nie.

In die eerste pot van die tweede stel het ’n gefrustreerde Kyrgios ’n breekpunt afgeweer, waarna hy van rat verwissel en skielik op alle silinders begin vuur het.

Sy ritme was eensklaps terug, die kishoue het gevloei en hy het die skare met slim spel op hul voete gehad onderweg na wat uiteindelik ’n gemaklike sege was.

“Ek was nooit bevrees dat ek gaan verloor nie. Ek is tevrede met my spel in die laaste twee stelle. Dit was van goeie gehalte. Ek sal egter van die begin af op my beste moet wees as ek teen Fritz speel,” het Kyrgios gesê oor sy komende kragmeting in die kwarteindronde teen die Amerikaner Taylor Fritz.

“Fritz is ’n ongelooflik goeie speler wat ’n uitstekende seisoen op die baan beleef. Hy speel aggressief en het ʼn dodelike afslaan. Hy is bitter gevaarlik,” het Kyrgios die Yank heuning om sy mond gesmeer.

Nog ’n Amerikaner bevind hom ook in die kwarteindronde.

Frances Tiafoe, wat vroeër vanjaar in die Amerikaanse Ope met Rafael Nadal afgereken het, het nog ’n oorwinning oor ’n Spanjaard agter sy naam geskryf deur Bernabe Zapata Miralles met 6-1 en 7-6 (9/7) te troef en sy plek onder die laaste agt te bespreek.

Die 24-jarige Yank het die eerste stel op ’n drafstap ingepalm, maar in die tweede stel het Miralles skielik kwaai weerstand gebied en teruggeveg om ’n valbylpot af te dwing.

Tiafoe het agterna gesê hy is tevrede met sy spel. “Dit was ’n strawwe tweede stel, maar gelukkig het dinge in my guns verloop. Ek slaan goed af, ek speel aggressief en voel gemaklik.”

Tiafoe se teenstander in die kwarteindronde is Miomir Kecmanovic van Serwië, wat met 6-3, 3-6 en 7-6 (7/4) oor die Brit Dan Evans geseëvier het.

Bronne: AFP en ATP Tour.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.