Bezuidenhout laat sy beursie bult

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout. Foto: Richard Heathcote/Getty Images/AFP.

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Christiaan Bezuidenhout het Sondagaand op TPC Sawgrass in Ponte Vedra Beach, Florida, weliswaar in die vierde ronde van die Spelerskampioenskap uitgesak toe hy 74 houe aangeteken het, maar hy lag die hele ent bank toe, want hy het met sy 13de posisie prysgeld van $447 916 (sowat R8,13 miljoen) verdien.

Bezuidenhout, wat ná die tweede rondte in die nekke van die voorlopers geblaas het, het op 281 houe geëindig, wat sewe houe onder die baansyfer is.

Die toernooi is deur die Amerikaner Scottie Scheffler gewen, wat met sy oorwinning van vyf houe weer die eerste posisie op die wêreldranglys by die Spanjaard Jon Rahm, wat weens ʼn maagvirus nie kon speel nie, oorgeneem het.

Scheffler het sy sege beklink toe hy  vyf opeenvolgende voëltjies in die middel van sy laaste rondte behaal het om sy voorsrpong verder te rek. Hy het 69 houe in die vierde aangeteken en op 271 houe (-17) geëindig.

Die Engelsman Tyrrell Hatton was tweede op 276 (-12) nadat hy 65 houe in die laaste rondte aangeteken het, met Viktor Hovland van Noorweë en Tom Hoge van die VSA saam derde op 278 (-10).

Scheffler se oorwinning maak hom slegs die derde speler ná Tiger Woods en Jack Nicklaus wat terselfdertyd die Spelerskampioenskap en Meesters-titel besit.

Volgens die Amerikaanse PGA se webwerf het Scheffler ʼn ongelooflike rekordprysgeld van $4,5 miljoen (bykans R82 miljoen) verdien. Verlede jaar se wenner, die Australiër Cam Smith wat hom tot die LIV-reeks verbind het, se prysgeld was sowat R65 miljoen, terwyl Rory McIlroy, wat nie vanjaar vir die laaste twee rondtes kon kwalifiseer nie, in 2019 bykans R40 miljoen verdien het.

* In Kenia het die Spanjaard Jorge Campillo die Kenia Ope gewen, wat deel is van die Road to Dubai-reeks.

Campillo het op 266 (-18) geëindig en twee houe voor Masahiro Kawamura van Japan (268, -16) klaargemaak, met nog ʼn Spanjaard, Santiago Tarrio, en Ryo Hisatune van Japan saam derde op 269.

Suid-Afrika se Jayden Schaper  (271, -12) was sewende, met sy landgenote JC Ritchie (272), Shaun Norris (274), Wilco Nienaber en Casey Jarvis (albei 275, -9) wat ook onder die voorlopers geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.