Bottelnek op Royal Cape

(Foto: Sunshine Tour/X)

Dit gebeur nie aldag nie dat tien spelers saam voorloop in ʼn gholftoernooi.

Dit het Vrydagmiddag op Royal Cape in Kaapstad in die tweede ronde van die Kaapstad-Ope gebeur toe die verwagte Kaapse dokter uiteindelik nie sy draai kom gooi het nie.

Die 23-jarige Ryan van Velzen, wat in Januarie die Mediclinic-toernooi gewen het, het hom by die rits ander voorlopers in die klubhuis op 135 houe (-9) aangesluit nadat hy ʼn lang sethou van 15 m op die 18de putjie ingerol het.

Van Velzen is saam met sy landgenote Deon Germishuys, Rhys West en Gerhard Pepler saam eerste, asook die onbesonge Haraldur Magnus van Ysland, Sam Hutsby, James Allan en Alfie Plant van Engeland, Tapio Pulkannen van Finland en die Fransman Benjamin Hebert.

Conor Purcell van Ierland, Rasmus Neergaard-Petersen van Denemarke en Louis Albertse van Suid-Afrika is saam 11de op 136 houe (-8).

* Die Suid-Afrikaner Zander Lombard kruip al hoe nader daaraan om sy rekening in die DP World Tour (Europese reeks) te wen nadat hy Vrydag by die Doha-buiteklub slegs drie houe agter die voorloper, Haydn Barron van Australië, in die tweede ronde van die Katar-Meesters geëindig het.

Barron het op 135 houe (-9) geëindig.

Barron se landgenoot Harrison Endycott is saam met Rikuya Hoshino van Japan tweede op 137 (-7), met Lombard en die Deen Niklaas Noergaard Moeller saam vierde op 138 houe (-6).

Van die ander Suid-Afrikaners is Ockie Strydom op 140 houe (-4), gevolg deur Louis de Jager, Hennie du Plessis, Jaco Prinsloo en Jacques Kruyswijk almal saam op 141. Hulle word gevolg deur Jayden Schaper op 142, met Casey Jarvis en Thriston Lawrence saam op 143.

* In Scottsdale, Arizona, loop Nick Taylor van Kanada en Andrew Novak van Amerika met twee houe saam voor ná die onvoltooide tweede ronde van die Phoenix-Ope wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Taylor en Novak het hul rondes voltooi en het albei saam op 130 houe (-12) geëindig voordat die tweede ronde ook nie vanweë swaar reën voltooi kon word nie.

Hulle word op 132 houe (-10) deur Maverick McNealy gevolg, met sy Amerikaanse landgenoot Doug Ghim op -9 (17de putjie).

Christiaan Bezuidenhout is op -3 nadat hy die 16de putjie voltooi het en sy Suid-Afrikaanse landgenoot Erik van Rooyen is gelyk aan baansyfer ná slegs twee putjies.

* In die LIV-reeks se toernooi wat in Las Vegas beslis word, het die Amerikaners Bryson DeChambeau en Dustin Johnson (albei 129, -11) die voortou ná die tweede ronde geneem.

Hulle word op 131 houe (-9) gevolg deur die Amerikaner Peter Uhlein, Jon Rahm van Spanje en die Amerikaner Matthew Wolff.

Suid-Afrika se Branden Grace (134 houe, -6) is 12de, gevolg deur sy landgenote Dean Burmester (139, -1) én Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel (albei op 140, gelyk aan baansyfer).

* In die Kenia-Ope vir vroue, wat deel is van die Europese reeks, loop Cara Gorlei van Suid-Afrika op 141 houe (-5) ná die tweede ronde met een hou voor Nataliya Guseva (142, -4), met Chiara Tamburlini van Switserland, Shannon Tan van Singapoer, Alessandra Fanali van Italië en Ayako Uehara van Japan.

Van die ander Suid-Afrikaners is Lee-Anne Pace op 147 en Nicole Garcia op 151.

  • Bronne: BBC en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.