Buhai los voor in Tokai

Ashleigh Buhai in aksie op die gholfbaan. Foto: Douglas P. DeFelice/Getty Images via AFP.

Ashleigh Buhai snel volspoed voort soos ʼn stoomtrein waarvan die ketels behoorlik gestook is.

Die 33-jarige Johannesburger is by die halfpadmerk van die SA Ope in Tokai die voorloper met vier houe in plaaslike gholf se grootste toernooi van die jaar.

Die heersende Britse Ope-kampioen het Donderdagmiddag ʼn foutlose telling van 65 houe – sewe houe minder as die baansyfer – aangeteken om op ʼn totaal van 129 (-15) die boonste plek op die voorlopersbord in te neem.

Uiters gure weersomstandighede het sowat 90 minute voor die middaguur eensklaps opgeklaar.

Buhai het die amper perfekte weerstoestande aangegryp en sewe voëltjies ingeryg om haar agterstand van twee houe uit te wis en ʼn stewige voorsprong op te bou.

Sy het die balletjie redelik sekuur van die bof geslaan en die een setperk na die ander met haar naderhoue gevind. Elke dan en wan het sy ʼn sethou vir ʼn voëltjie ingerol wat ʼn bree glimlag op haar gesig tot gevolg gehad het.

“Ek het stadig begin en was geduldig omdat ek geweet het die voëltjies sal kom. Teen die einde het dit begin gebeur. Dit is altyd ʼn goeie dag as jy foutlose gholf speel en geen brouhoue aanteken nie,” het Buhai agterna gesê.

Sy het voorts gesê die reën die eerste twee dae was lastig, maar dit het ook meegebring dat die setperke sagter is.

“In die geheel is ek baie tevrede oor hoe dinge tot nou toe verloop het en ek sien uit na die laaste twee dae.”

Die voorloper ná die eerste rondte, die Duitse tienersensasie Chiara Noja, was nie so gelukkig nie en moes in gure weersomstandighede haar talente uitstal.

Sy het nietemin ʼn baie goeie telling van 71 houe – een hou minder as syfer – aangeteken en is alleen in die tweede plek op ʼn totaal van 133 (-11) danksy haar puik baanrekord van 62 die eerste dag.

Noja sal Vrydagmiddag die derde ronde in die geselskap van Buhai deurbring en dit sal interessant wees om te sien hoe ʼn wyse veteraan en ʼn vreeslose groentjie teenoor mekaar opweeg.

Albei is lang slaners en hul drome van sukses kan uiteindelik op hul vertonings op die kort grassies neerkom. Buhai se setwerk was tot dusver die beste.

Die twee voorlopers word gejaag deur Magdalena Simmermacher van Argentinië (67), Ana Trivino van Spanje (67), Nastasia Nadaud van Frankryk (70) en Romy Seekers van Nederland (70) wat op 135 (-8) die derde posisie deel.

Afgesien van Buhai is Kaleigh Telfer (69) en Casandra Alexander (68) op -6 en Nadia van der Westhuizen (71) op -5 die voorste SA spelers.

Die SA Ope-kampioen Lee-Anne Pace het op 143 (-1) die afsnypunt van 144 oorleef, maar is uit die wedloop ná ʼn teleurstellende 73 gister.

SA’ners gee pas aan in Mediclinic-toernooi

In Centurion is ʼn groep van vier spelers die gesamentlike voorlopers ná die tweede rondte van die Mediclinic-uitnodigingstoernooi.

Ruan Korb van Silver Lakes, Pieter Moolman van Benoni Lake, Ryan van Velzen van die Benoni-buiteklub en die Engelsman James Mack gee op 130 houe – 14 houe minder as baansyfer – die pas aan by die halfpadmerk van dié nuwe toernooi op die Sonskynreeks.

Korb het gister ʼn foutlose 63 gespeel, terwyl die ander drie almal 64 houe aangeteken het.

Die veelmalige Sonskynreeks-kampioen George Coetzee is op 131 (-13) in die vyfde plek nadat hy gister 66 houe gespeel het.

Die valbyl het op 140 houe (-4) geval en slegs 65 van die oorspronklike 156 spelers het vir Vrydag en Saterdag se laaste twee rondtes gekwalifiseer.

*In Ponte Vedra in Florida is Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout stewig geplaas ná die eerste rondte van die Amerikaanse PGA-reeks se Spelerskampioenskap.

Bezuidenhout beklee met ʼn telling van 68 houe – vier houe minder as die baansyfer – die gesamentlike sesde plek in dié glansryke toernooi wat allerweë as die spel se vyfde major-toernooi beskou word.

Chad Ramey is op 64 die voorloper, gevolg deur Collin Morikawa op 65 in die tweede plek.

Die wêreld se huidige no. 1-speler, Jon Rahm, moes met ʼn 71 tevrede wees, terwyl die naasbeste volgens die wêreldranglys, Scottie Scheffler, nes Bezuidenhout ʼn telling van 68 aangeteken het.

Die Ier Rory McIlroy, wêreld no. 3, het egter ʼn nagmerriebegin gehad en ʼn liederlike telling van 76 aangeteken. Hy sal onder druk wees om die halfpadmerkvalbyl vry te spring.

Afgesien van Bezuidenhout het ander SA sterre soos Garrick Higgo (70) en Dylan Frittelli (72) ook heel skaflik vertoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.