Dean en Louis beur na vore

Dean Burmester (Foto: Eakin Howard/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Dean Burmester is op die randjie daarvan om sy rekening in die LIV-gholfreeks te open nadat hy Saterdagaand net twee houe agter die voorloper, Sergio Garcia van Spanje, in die tweede en voorlaaste ronde van LIV se Miami-toernooi geëindig het.

Die toernooi word op die Trump National Doral-baan in Florida beslis.

Garcia, wat ook nog nie ʼn toernooi in die reeks kon wen nie, het die tweede ronde in 68 houe voltooi en op 135 houe (-9) geëindig.

Burmester wat rondes van 68 en 69 houe aangeteken het, is saam met Tyrrell Hatton van Engeland en die Amerikaners Talor Gooch en Matthew Wolff tweede op 137 (-7).

Louis Oosthuizen het ook puik gevaar en met sy ronde van 68 opgeskiet na 138 (-6), waar hy saam met Richard Bland (Engeland), Adrian Meronk (Pole), Patrick Reed (Amerika) en Kieran Vincent (Zimbabwe) die sesde posisie beklee.

Charl Schwartzel (145, +1) en Branden Grace (146, +2) is verder terug.

Die Suid-Afrikaners se Stinger-span is derde (-13) in die spanafdeling, maar ver agter Legion XIII (-21) en die RangeGoats (-18).

Akshay Bhatia (Foto: Brennan Asplen/Getty Images/AFP)

* In die Amerikaanse PGA-reeks het die onbesonge Akshay Bhatia aan sy voorsprong geklou in die derde ronde van die Texas-Ope wat op TPC San Antonio beslis word.

Bhatia het twee voëltjies op die laaste twee putjies aangeteken en is vier houe voor sy Amerikaanse landgenoot Denny McCarthy, met nog ʼn Amerikaner, Brendon Todd, derde, sewe houe agter Bhatia.

Die Noord-Ier Rory McIlroy is tien houe agter Bhatia nadat hy op die eerste putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het, maar met twee voëltjies op die laaste twee putjies afgesluit het.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout, wat 69 houe in die derde ronde aangeteken het, het op 213 houe (-3) geëindig en is in die 17de posisie.

Garrick Higgo (216) is verder terug nadat hy 73 houe in die derde ronde op sy telkaart ingevul het.

* In die plaaslike Sonskynreeks het Casandra Alexander die Absa-uitnodigingstoernooi vir vroue gewen wat by die Serengeti-landgoed buite Kempton Park beslis is.

Alexander het 66 houe in die laaste ronde op haar telkaart ingevul en het op 204 houe geëindig.

Harang Lee van Spanje was tweede op 208, met Cara Gorlei van Suid-Afrika derde op 211 en Stacy Bregman vierde (212).

Die jong Kiera Floyd, wat ná die tweede ronde saam voor was, het 77 houe in die derde ronde aangeteken en saam met Lee-Anne Pace op 215 houe geëindig.

* In die Limpopo-kampioenskap wat by die Euphoria-landgoed in Mookgophong afgehandel word, het Jacques Blaauw se besluit om meer aggressief te speel, vrugte in die derde ronde afgewerp.

Blaauw het 67 houe aangeteken en loop op (-17) met een hou voor Deon Germishuys (-16) met Dylan Naidoo (-14) derde.

Wilco Nienaber, wat ná die eerste ronde voor was, het 68 houe in die derde ronde aangeteken en is op -11.

Zander Lombard, wat ná die tweede ronde voorgeloop het, het in die derde ronde verbrou en 76 houe aangeteken en op -9 geëindig.

Bronne: LIV-gholf en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.