Els seëvier net-net in Kalifornië

Ernie Els nadat hy die Hoag Classic in Kalifornië gewen het. (Foto: Twitter/. Hoag Classic)

Suid-Afrika se gewilde gholfster Ernie Els bevind hom uiteindelik weer in die wenkampie.

Die 53-jarige Els het Sondag in Kalifornië sy derde titel op die Amerikaanse Kampioene-reeks gewen deur die Hoag Classic met een hou te wen nadat hy ’n  agterstand van vyf houe in die laaste ronde uitgewis het.

Die Suid-Afrikaner se oorwinning was $300 000 (sowat R5,5 miljoen) werd.

Els se laaste oorwinning was in Oktober 2020 toe hy die SAS-kampioenskap gewen het. Hy het in Maart van daardie jaar sy eerste titel in die reeks vir seniors verower toe hy die einste Hoag Classic ingepalm het.

“Selfs op ons ouderdom, wanneer ons in die Kampioene-reeks meeding, wil ons goed speel en beter word.

“Ek het lank gewag vir hierdie oorwinning. Ek het verlede jaar baie goeie gholf gespeel en selfs ’n keer of wat tweede geëindig.

“Dit begin aan ’n mens krap as jy nie oor die laaste hekkie kan kom nie, maar dis gelukkig nou eers verby,” het ’n uitgelate Els ná sy sege gesê.

Els het Sondag se derde en laaste ronde op -7 begin en was vyf houe agter die Duitser Bernhard Langer.

Die 65-jarige Langer se visier was op ’n rekord 46ste titel in die Kampioene-reeks gerig.

Els het vroeg gewys hy is goed op dreef deur vier voëltjies oor die eerste nege aan te teken. Verdere voëltjies by die sestiende en agttiende putjies was goed genoeg vir ’n telling van 65 – ses houe minder as die baansyfer van 71 – en ’n totaal van 200 (-13).

Die res van die deelnemers het daarna in winderige en nat toestande probeer om Els in te haal, maar die een na die ander het gestruikel en weggeval.

“Voordat ek afgeslaan het, het ek na die weervoorspelling gekyk en gesien gure omstandighede gaan later die dag die spelers moeilikheid gee.

“Daarom was dit belangrik om vroeg die voëltjies in te ryg en ’n teiken vir die ander spelers te stel.

“Ek is waarlik gelukkig, want vandag (Sondag) se ronde was foutloos en byna perfek,” het Els agterna gesê.

Met die speeltoestande wat aan die einde van die dag al hoe moeiliker geraak het, het die Amerikaners Steve Stricker (67) en Doug Barron (70) uiteindelik op -12 klaargemaak.

Veral Barron sal slapelose nagte hê oor die sethou van skaars ’n meter wat hy op die laaste setperk verbrou het.

Langer het op -10 klaargemaak ná ’n teleurstellende 73.

Els se landgenoot, Retief Goosen, het op -5 geëindig ná ’n telling van 70 oor die laaste agttien putjies.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.