Fowler laat Rahm in die stof byt

Ricky Fowler. Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP

Die Spanjaard Jon Rahm het Woensdag op sy baadjie gekry in die eerste ronde van die Wêreldkampioenskapreeks (WGC) se jaarlikse putjiespeltoernooi in Austin, Texas.

Afgesien van Rahm, die wêreld se no. 2-speler, se verrassende nederlaag, het verskeie ander spelers ook onverwags vasgeval in die eerste groepwedstryde. Scottie Scheffler en Rory McIlroy, onderskeidelik no. 1 en no. 3 op die wêreldranglys, het egter stewig vertoon.

Van die bekendes wat gesukkel het, was Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout, Viktor Hovland van Noorweë en die Engelsmanne Tommy Fleetwoord, Matt Fitzpatrick en Tyrrell Hatton, wat almal nou in ʼn oorlewingstryd gewikkel is om die laaste 16 te haal.

Altesame 64 spelers ding mee in 16 groepe van vier en net die groepwenners dring ná die eerste drie dae se rondomtalie-kragmetings deur na die uitkloprondes.

In die eerste dag se grootste opskudding is Rahm met 2 en 1 deur die Amerikaner Ricky Fowler verslaan.

Fowler was duidelik aangevuur deur die feit dat hy die kwarteindronde van die toernooi moet haal indien hy sy plek in die veld vir die Amerikaanse Meesters-toernooi wil verseker.

Die Yank beleef ʼn goeie seisoen en het nie enige groot foute in sy kragmeting met Rahm gemaak nie. Waar dit saakgemaak het, het hy die sethoue ingerol om sy neus voor te hou.

Bezuidenhout het goeie gholf teen Finau gespeel en vier voëltjies aangeteken, sonder ʼn enkele brouhou.

Finau was egter nog beter op dreef met ses voëltjies in ʼn foutlose rondte om as oorwinnaar van die baan te stap.

Fleetwood, Fitzpatrick en Hatton het Woensdag hul moses teëgekom teen drie Yanks wat skynbaar hul messe ingehad het vir die trio Engelsmanne.

Die onbesonge JJ Spaun het Fitzpatrick, die huidige Amerikaanse Ope-kampioen, met 5 en 3 van die baan gevee nadat hy sewe voëltjies aangeteken het, terwyl JT Poston met 3 en 2 oor Fleetwood geseëvier het. Die relatief onbekende Ben Griffin het Hatton met 3 en 1 geklop.

Wat die groot kanonne betref het Scheffler en McIlroy goeie oorwinnings behaal en met onderskeidelik Davis Riley (1 voor) en Scott Stallings (3 en 1) afgereken.

Scheffler moes weliswaar tot die laaste putjie veg om te seëvier, maar toe dit saakgemaak het, het hy ʼn sethou van vyf meter ingerol om die kous oor Riley se kop te trek.

McIlroy was Woensdag gewapen met ʼn nuwe setyster, asook met ʼn nuwe steel in sy drywer.

Die Noord-Ier se setwerk was sprankelend en sy bofhoue het meestal sekuur die skoonvelde gevind. Hy het ses voëltjies aangeteken en slegs by een putjie ʼn hou laat val.

Ander spelers wat hul eerste ronde-kragmetings gewen het, is die Amerikaners Jordan Spieth, Collin Morokowa, Xander Schauffele, Cameron Young, Patrick Cantlay en Max Homa, asook die Kiwi-ster Ryan Fox.

Die groepwedstryde maak Vrydag klaar, met die uitkloprondes wat Saterdag en Sondag beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.