Gholf: Ahlers, Jarvis span die kroon in Sonskynreeks

Jaco Ahlers (Foto: Sunshine Tour/Facebook)

Dit was uiters gepas dat Jaco Ahlers, wat eerste op die Sonskynreeks se verdienstelys geëindig het, Sondagmiddag by die Serengeti-gholflandgoed net buite Kempton Park die toerkampioenskap gewen het.

Ahlers het die vierde ronde van die laaste toernooi in dié seisoen se reeks in 71 houe voltooi en op 271, 17 houe onder die baansyfer, geëindig.

Dit was sy 11de oorwinning in die reeks en hy gaan nou, volgens die Sonskynreeks, in twee Major-toernooie, die Britse Ope in Liverpool, die Amerikaanse PGA by Oak Hill, asook die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City speel.

Hy is in die tweede plek, gevolg deur die 19-jarige Casey Jarvis wat as die Sonskynreeks se nuweling van die jaar aangewys is.

Jarvis, wat 70 houe in die vierde ronde aangeteken het, het op 275 (-13) geëindig.

Hy het ʼn ongelooflike eerste seisoen in die Sonskynreeks beleef en sewende op die verdienstelys geëindig, wat drie tweede plekke ingesluit het.

Hy het boonop die Sonskynreeks se rekord vir die laaste rondetelling met sy 59 houe in die derde ronde van die onlangse spelerskampioenskap by Dainfern geëwenaar.

Luca Filippi, Ryan van Velze en Pieter Moolman was Sondag saam derde op 280, agt houe onder baansyfer.

* In die ISPS Handa-kampioenskapstoernooi wat in Omitama in Japan beslis is en deel is van die Europese DP World Tour, het die Australiër Lucas Herbert die uitspeelstryd teen Aaron Cockerill (Kanada) op die tweede uitspeelputjie gewen.

Hulle het albei op 265 (-15) geëindig.

Callum Hill van Skotland was derde op 266 (-14), gevolg deur sy landgenoot Grant Forrest en Japan se Hiroshi Iwata vierde op 267 (-13).

Suid-Afrika se Deon Germishuys was saam negende op 270 (-10), Jacques Kruyswijk het op 273 geëindig, met Jbé Kruger op 280, Louis de Jager op 282 en Ernie Els op 283.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Zurich Classic of New Orleans-spantoernooi het die Amerikaners Nick Hardy en Riley Davis (258, -30) met een hou gewen.

Hulle het met ʼn agterstand van drie houe in die laaste ronde afgeslaan, maar die vierde ronde in 65 houe voltooi. Hul toernooitelling van 258 het die vorige rekordlaagste (259) laat spat.

Hardy en Davis was twee houe voor die Kanadese Adam Hadwin en Nick Taylor (260, -28).

Suid-Afrika se Dylan Frittelli en sy Duitse spanmaat Matthias Schmid en MF Daffue en Erik van Rooyen was saam in die 26de posisie op 271 (-17).

* In die LIV-toernooi wat in Adelaide, Australië, beslis is, het die Amerikaner Talor Gooch die toernooi oor drie rondes met drie houe gewen.

Gooch, wat ná die tweede ronde met tien houe voor was, het op 197 (-19) geëindig, met Indië se Anirhan Lahiri tweede op 200 (-16), gevolg deur die Amerikaners Cameron Tringale, Patrick Reed, Pat Perez en Australië se Cameron Smith saam op 201.

Suid-Afrika se Dean Burmester en Charl Schwartzel was saam sewende op 202 (-14) met Louis Oosthuizen op 204 (-12) en Branden Grace op 213 (-3).

In die spanafdeling was die Suid-Afrikaanse Stinger-span derde agter die 4-Aces en RangeGoats.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.