Gholf: Amerikaanse Ope op meskant gebalanseer

Wyndham Clark (Foto: USGA/James Gilbert)

Die tafel is vir ʼn feesmaal gedek in die vierde en laaste ronde van die Amerikaanse Ope-gholftoernooi wat by die Los Angeles-buiteklub beslis word.

Die Amerikaners Wyndham Clark en Rickie Fowler is saam met een hou voor op 200 houe (-10). Hulle word gevolg deur die wêreld se derde beste speler op die jongste gholfranglys, Rory McIlroy van Noord-Ierland, wat in hul nekke blaas op 201 (-9).

Maar dan trap die wêreld se voorste speler op die ranglys, die Amerikaner Scottie Scheffler (203, -7), in hul spore. Hy word gevolg deur die Amerikaners Harris English (204, -6) en Xander Schauffele (205, -5).

Boonop is twee vorige wenners, Dustin Johnson (205, -5) en sy landgenoot Bryson DeChambeau (207, -4), ook binne trefafstand met die Australiër Cameron Smith ook op 207.

Die 18-jarige Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter het die derde ronde in 74 houe voltooi en is op 216 saam in die 55ste posisie.

Rickie Fowler (Foto: USGA/James Gilbert)

Fowler, wat op koers is om sy eerste major te wen, was op die 18de putjie met twee houe voor, maar hy het ʼn hou aan baansyfer afgestaan en op 70 houe geëindig, terwyl Clark ʼn voëltjie aangeteken het om as gesamentlik voorloper af te sluit.

Die senuwees gaan beslis in die laaste ronde knaag, want Clark kon nie die afsnypunt in sy vorige twee verskynings vryspring nie. Hy het reeds ses keer in die Ope gespeel en kon nog nooit beter as 75ste vaar nie.

McIlroy het 69 houe aangeteken en is beslis een van die groot gunstelinge om sy vyfde major te wen, maar Scheffler is die groot gevaar.

Hy het op die 17de ʼn arend aangeteken toe hy sy naderhou van 196 meter ingeslaan het.

Hy het voortgegaan en ʼn voëltjie op die laaste putjie aangeteken.

As Scheffler die Ope wen, sal hy volgens die BBC slegs die tweede speler naas Tiger Woods word wat die Ope kon wen as die wêreld se voorste speler op die ranglys, wat die eerste keer in 1986 gebruik is.

* By die Blythedale-buiteklub in Michigan is Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (202, -14) saam tweede ná die derde ronde van die Meijer Classic-toernooi, wat deel van die Amerikaanse LPGA-reeks is.

Amy Yang van Korea is voor op 201 houe (-15) gevolg deur Buhai, Ayaka Furue van Japan en Xiyu Lin van China (almal saam op 202, -14), met Hyo-Joo Kim van Korea, Leona Maguire van Ierland en Ariya Jutanugarn van Thailand saam vyfde op 203 (-13).

Buhai het ná haar oorwinning in verlede week se ShopRite-toernooi tot 12de op die wêreldranglys vir vroue opgeskiet en sy sal sekerlik haar posisie nog verder verbeter.

* Suid-Afrika se Casandra Alexander (210, -6) is ná die derde ronde van die Duitse Meesterstoernooi vir vroue, wat by Seddiner See gespeel word en deel is van die Europese vroue-reeks, sewe houe agter die voorlopers, Cara Gainer van Engeland en Kristyna Napoleaova van die Tsjeggiese Republiek (albei 203, -13), met Diksha Dagar van Indië derde op 205 (-11).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.