Gholf: Ashleigh skitter in Australiese Ope

gholf-gras-bal-pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: HeungSoon/Pixabay)

Ashleigh Buhai het Sondag in Melbourne vir nog ʼn goue oomblik in Suid-Afrikaanse sport gesorg toe sy die Australiese Ope vir vroue met een hou gewen het.

Buhai, wat vroeër vanjaar ook die Britse Ope vir vroue op St. Andrews in Skotland gewen het, het die laaste rondte in 73 houe voltooi, wat een meer as baansyfer was, maar sy het op -12 geëindig nadat sy tellings van 69 en 66 in die eerste drie rondtes op haar telkaart ingevul het.

“Dis die kersie op die koek,” het ʼn emosionele Buhai aan die oud-tennisspeler Todd Woodbridge in ʼn televisie-onderhoud gesê kort ná haar oorwinning.

Sy het veral haar man, David, vir sy bydrae as joggie bedank. David het nie haar sak op St. Andrews gedra nie, maar hy was die afgelope vier dae aan haar sy op die Victoria-baan vir haar tweede groot triomf.

Buhai is gevolg deur Jiyai Shin (Suid-Korea) wat ná die derde rondte voor was, maar 75 houe in die laaste rondte gespeel het en op -11 geëindig het.

Die Aussie Hannah Green was derde (-10).

In die mansfdeling het die Pool Adrian Meronk (-12) met drie houe voor Adam Scott ( -9)  van Australië geëindig, met Minjee Lee van Australië (-8) derde.

* Op die Blair Atholl-landgoed in Lanseria slaan die Suid-Afrikaner Thriston Lawrence Sondagmiddag met ʼn voorsprong van twee houe af in die laaste rondte van die Suid-Afrikaanse Ope.

Lawrence, wat tellings van 64, 67 en 67 op sy telkaart ingevul het, is op 198 (-18).

Hy word gevolg deur die jong Fransman Clément Sordet op 200 (-16) met die Sweed Jens Fahrbring (-12), Ashun Wu van China (-11)  en die Suid-Afrikaanse amateur Christiaan Maas en Martin Simonsen van Denemarke saam vyfde op -10.

* In Barbados loop die Noorweër Viktor Hovland met drie houe voor ná die derde rondte van die Hero-uitdaagtoernooi.

Hovland is op 203 (-13) en word in die tweede plek gevolg deur die Amerikaner Scottie Scheffler, wat ʼn paar weke gelede nog die voorste speler op die wêreldranglys was voordat hy deur Rory Mcllroy van Noord-Ierland uitgeskuif is.

Nog twee Amerikaners, Cameron Young en Justin Thomas (albei 208, -8), is saam derde, met Xander Schauffele, Collin Morikawa op 209 (-7).

 

Die Spanjaard Jon Rahm is op 212 (-4).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.