Gholf: Bezuidenhout klou vas, roem vir Buhai

Christiaan Bezuidenhout (Foto: David Yeazell-USA TODAY Sports/Twitter)

As Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in die laaste ronde van die Spelerskampioenskaptoernooi by TPC Sawgrass in Ponte Vedra Beach, Florida, kan vasbyt, gaan hy miljoene verdien en sy posisie op die wêreld-gholfranglys ʼn groot hupstoot gee.

Bezuidenhout is ná die derde ronde, wat hy in 69 houe voltooi het, op 207 houe (-9) vierde saam met die twee Engelse Aaron Rai en Tommy Fleetwood, asook die Amerikaner Chad Ramey.

Hulle is op die spoor van die voorloper, die Amerikaner Scottie Scheffler, wat op 202 houe (-14) geëindig het nadat hy 65 houe in die derde ronde aangeteken het.

Scheffler is twee houe voor die Australiër, Min-Woo Lee (204, -12), met nog ʼn Aussie, Cameron Davis, derde op 206 (-10).

Saterdag was ʼn dag van groot drama toe die meeste spelers vroegoggend eers hul tweede rondes moes voltooi het nadat spel Vrydag weens die gure weer kortgeknip is.

Die groot nuus was dat die Noord-Ier Rory McIlroy nie kon kwalifiseer nie nadat hy op +5 geëindig het.

Die Amerikaner Tom Hoge het later in die derde ronde met sy 62 houe ʼn nuwe baanrekord opgestel, terwyl Rai ʼn kolhou op die 17de behaal het.

Boonop is Scheffler nou in die pylvak om weer die voorste posisie op die wêreldranglys in te neem nadat die Spanjaard Jon Rahm hom weens ʼn maagaandoening voor die toernooi onttrek het en McIlroy nie die afsnypunt kon haal nie.

Die prysgeld vir die toernooi is bykans R457 miljoen met sowat R82 miljoen wat op die wenner wag.

* Op die Steenberg-baan in die Kaap het Suid-Afrika se Ashleigh Buhai weer haar ongelooflike talent en bestendigheid uitgestal toe sy die Suid-Afrikaanse Ope vir vroue, wat deel is van die Europese vrouereeks, met vier houe gewen het.

Buhai, wat soos ʼn hele paar ander spelers Vrydag met ʼn maagvirus gesukkel het, het haar nie daardeur laat onderkry nie en het die vierde keer die nasionale titel vir vroue verower.

Sy het 68 houe in die laaste ronde aangeteken om op 266 (-22) te eindig.

“Ek is natuurlik in die wolke. My doel was om hierdie week hierheen te kom en te wen. Ek het probeer om nie ʼn te groot ding daarvan te maak nie weens die druk, maar noudat ek oor die streep is, is ek regtig gelukkig,” het Buhai aan die Sonskynreeks vir vroue gesê.

Sy het oor die eerste nege putjies vyf voëltjies aangeteken en in ʼn stadium met sewe houe voorgeloop.

Spanje se Ana Peláez Trivino was met 270 houe (-18) tweede, gevolg deur die Duitse tiener Chiara Noja, wat die vroeë voorloper was, op 271 (-17).

Magdalena Simmermacher van Argentinië was vierde op 273 (-15) met Suid-Afrika se Kaleigh Telfer vyfde op 277 (-11) en die Tsjeg Klara Spilkova sesde op 278 (-10).

* By die Centurion-buiteklub het Stefan Wears-Taylor sy eerste oorwinning in die Sonskynreeks behaal toe hy die Medi Clinic-uitnodigingstoernooi met een hou gewen het.

Wears-Taylor, wat op sy tuisbaan gespeel het, was Saterdagoggend nog drie houe agter die voorloper George Coetzee, maar hy het ʼn puik 64 houe, wat agt houe onder die baansyfer is, aangeteken en op 263 houe (-25) geëindig.

Sy ronde het agt voëltjies ingesluit en hy het sy landgenoot Jake Redman (264, -24) met een hou geklop.

Coetzee was derde op 266 (-22) nadat hy 70 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Hy is op 267 (-21) houe deur Louis Albertse gevolg, met nog ʼn Suid-Afrikaner, Yurav Premlall, en James Mack van Engeland saam op 268 (-20). Dylan Naidoo was sewende op 269 (-19).

* In Kenia loop Jorge Campillo van Spanje op 200 houe (-13) met een hou voor ná die derde ronde van die Kenia-Ope, wat deel is van die Road to Dubai-reeks.

Hy word op 201 gevolg deur die Skot Robert MacIntyre met Suid-Afrika se Jayden Schaper en Mashiro Kawamura van Japan saam derde op 202.

Suid-Afrika se JC Ritchie (204), Justin Harding (207) en Wilco Nienaber, Daniel van Tonder en Dylan Mostert (almal op 208) is ook nog in die wedloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.