Gholf: Branden blink, res van Stinger-span ook

Branden Grace (Foto:
Mike McAllister/Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Stinger-gholfspan wat in die LIV-gholfreeks speel, is op pad om nog ʼn paar miljoene Amerikaanse dollar in hul bankrekeninge te stort nadat Branden Grace, Dean Burmester en Charl Schwartzel in die tweede rondte van die Greenbrier-toernooi na vore geskiet het.

Die Stinger-span is op -30 in die tweede posisie en net vier houe agter Torque (-34).

Die Crusher-span, HyFlyers, Range Goats en Smash is saam derde op -26.

Grace (-10) is sesde en net twee houe agter die voorlopers David Puig en Matthew Wolffe (-12) met Talor Gooch, Richard Bland en Bryson DeChambeau (aldrie op -11) saam derde.

Burmester het op -9, Schwartzel op -8 en Louis Oosthuizen op -5 in die klubhuis geëindig.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Wyndham-kampioenskap wat by die Sedgefield-buiteklub in Greensboro gespeel word, loop die Amerikaners Billy Horschel en Lucas Glover (albei 192, -18) met een hou voor hul landgenoot Russell Henley (193, -17) met Byeong-Hun An van Korea vierde op 194 (-15), gevolg deur Stephan Jaeger van Duitsland op 197 (-13).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het tellings van 69, 68 en 69 op sy telkaart ingevul en is op 213 (-4) in die 43ste posisie.

* Op die Dundonald-linksbaan in Irvine loop die Franse speler Celine Boutier (203, -13) met drie houe voor Paphangkorn Tavatanakit van Thailand en Maja Stark van Swede (albei 206, -10) ná die derde rondte van die Skotse Ope vir vroue.

Hulle word op 207 (-9) gevolg deur Madalene Sagstroem (Swede) met Nicole Broch Estrup (Oostenryk), Sarah Kemp (Australië), Hinako Shibuno (Japan) en Caroline Hedwall (Swede) wat almal saam op 208 (-7) is.

Suid-Afrika se Paula Reto is op 217 (+1), gevolg deur Lee-Anne Pace en Casandra Alexander albei op 219 (+3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.